Die pitboel wat op 26 September ’n vrou en haar hond in Wellwaypark-Oos in Durbanville aangeval het, is verlede Saterdag deur die Stad Kaapstad se wetstoepassingsdepartement verwyder.
Dit volg ná ’n vooraf-kennisgewing wat aan die eienaar van die hond uitgereik is om hom in te lig dat die hond geskut gaan word.
Die hondeienaar se buurvrou, Jemine Smith, het die dag in Portulaca-laan met haar tien maande oue miniatuur-windhond, Chewy, aan sy leiband gaan stap. Toe sy verby die pitboel se huis stap en sien die hek staan oop, het sy hom in haar arms opgetel. Die pitboel het by die hek uitgehardloop gekom, haar aangeval en ’n diep gat in haar onderbeen gebyt. Sy het geval en die pitboel het Chewy aangeval en in sy gesig gebyt. Die hondjie se kakebeen is op twee plekke gebreek. Albei is geopereer. Die mediese rekenings van die Smith en haar hond beloop reeds bykans R100 000.
Plastiese chirurgie
Volgens haar man, Eugene Smith, moet Chewy nóg ’n verdere twee weke ná die aanvanklike se weke ’n skerm dra, wat hulle net mag afhaal as hy eet.
Dit is omdat dit ná X-strale geblyk het die kakebeen is nog nie heeltemal aangegroei nie, sê hy.
Daar is ook ’n moontlikheid dat sy vrou plastiese chirurgie op haar been moet ondergaan, omdat die vel rondom die bytmerk steeds geen gevoel het nie en dit later lelik kan verkleur, sê Smith.
Hoewel sy buurman aanvanklik om verskoning gevra en aangebied het om sy skade te vergoed en al die mediese rekening te betaal, het hy intussen skynbaar van plan verander, omdat hy hom nou vermy en geen oproepe beantwoord nie.
Hy is steeds besig met ’n siviele eis teen sy buurman, sê Smith.
Wayne Dyason, woordvoerder vir die Stad se wetstoepassingsdepartement, het by navraag aan TygerBurger gesê daar is beslag op die hond gelê nadat ’n hofbevel bekom is.
“Die hondeienaar het die reg om ingevolge die Stad se munisipale verordening vir die aanhou van diere ’n vertoë tot die Stad te rig.
“Die voorval word ondersoek en ’n dossier sal saamgestel word en aan die Stad se wetstoepassingsdepartement voorgelê word vir ’n finale besluit. Dit sal daarna aan die Stad se regsafdeling oorhandig word vir verdere stappe.Aanbevelings“
Indien sy vertoë suksesvol is, sal sekere aanbevelings aan die hondeienaar gemaak word om hom te dwing om aan sekere vereistes te voldoen,” het hy gesê.
Die pitboel het twee maande voor dié voorval ook ’n ander hond aangeval nadat hy teen ’n grensmuur van bure opgespring en hul Boston-terriër oor die muur getrek het.
Dié hond se mediese kostes het R5 500 beloop en is deur sy eienaar self betaal.





