In die nuwe, vergrote kombuis staan Twanette Acker, wat vanweë haar rol by die StoryBox-geletterdheidsprojek by die bouprojek betrokke geraak het, saam met Arnold Barnardo (links) van Biljon Barnardo Argitekte en Francois de Villiers van RFJ Projects.FOTO’s: Esmé Erasmus


Die projek om ’n groter kombuis te bou waaruit ’n plaasskool buite Durbanville sowat 200 klein magies met twee etes per skooldag voorsien, het vlerke gekry.

Hou vir hou het die gholfspelers van die Westelike Provinsie Nomads (WP Nomads), wat deel vorm van die Nomads-gholfklub van Suid-Afrika, nie net die droom bewaarheid van ’n meer funksionele kombuis nie, maar die hele administratiewe area, ingesluit die kantoor van die skoolhoof, is daarmee saam vergroot. Die koste van die totale projek het sowat R235 000 beloop.

Altesame 1 800 borde kos word per week voorberei vir sowat 90% van die leerders van die Laerskool The Valley op Altydgedacht.

Piepklein kombuisie

Dié kwintiel 1-skool, wat weens die profiel van die leerders nie skoolfonds betaal nie, het in 1933 sy deure geopen. Sowat die helfte van die leerders woon op omliggende wynplase, waar hul ouers meestal as seisoenwerkers tussen September en Maart werk. Die ander helfte word deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement vanuit Morningstar in Durbanville, asook vanuit die informele nedersettings in Dunoon en Fisantekraal, vervoer.

Danksy die Peninsula School Feeding Association se voedingskema by skole word rou bestanddele weekliks by die skool afgelewer. Daar is daagliks pap gekook vir ontbyt en ’n bord gekookte kos vir middagete voorberei in ‘n piepklein kombuisie.

Die kombuisoppervlak waar alle kombuistoerusting, insluitend die gasbrander en yskas, en eetgerei gestoor is, was skaars 10 m².

“Die kospotte kon nie in die piepklein wasbakkie pas nie en die vroue het dikwels op die grond op houtplanke groente geskil en gesny, aangesien daar geen werksoppervlaktes was nie,” sê Twanette Acker, wat deur die StoryBox-vroeëgeletterdheidsprojek by die skool by die bouprojek betrokke geraak het.

Reuse-potte

“Kosprodukte is drie deure verder in die rekenaarlokaal gestoor, wat dié lokaal onbruikbaar gemaak het. Daar is maar styf gewerk tussen kos, mens, vloer, stoof, potte, roer, yskas, water en benodigdhede, met ’n heen en weer geloop agter bestanddele aan. Tog is alles met groot liefde en sorg berei in die baie minder as ideale omstandighede. Die reuse-potte kos is dan uitgedra na buite onder ’n afdak waar opgeskep is,” sê Acker.

Die lede van die WP Nomads gebruik hul gemeenskaplike liefde vir gholf reeds sedert 1960 om nie net lewenslange vriendskappe te snoer en hul sport te geniet nie, maar ploeg ook terug in hul eie gemeenskappe om die lewensomstandighede van mense in minder bevoorregte posisies te verbeter, sê sy.

Die lot van The Valley het onder hul aandag gekom deur Eduan Milner, die destydse onderkaptein van WP Nomads – nou die kaptein van WP Nomads vir 2024-’25. Sy vrou, Ita, werk as vrywilliger by die StoryBox-projek by die skool.

Die vise-kaptein van elke Nomads-gholfklub se hooftaak vir sy termyn van ’n jaar is, eerstens, om ‘n begunstigde te identifiseer wat ‘n behoefte het aan ‘n spesifieke projek of projekte en tweedens, om daardie projek te laat realiseer deur verskillende geldinsamelingsaktiwiteite te reël gedurende die jaar.

Sedert die ontstaan van hierdie geldinsamelingsprojekte het Nomads in Suid-Afrika landwyd alreeds meer as R50 miljoen ingesamel vir sulke projekte.

Gewilde gholfdag

WP Nomads het vir The Valley se projek verskeie fondsinsamelingsgeleenthede gereël, asook ’n gewilde gholfdag, ’n dinee by die Bellville-gholfklub waar die bekende sportskrywer Dan Retief die gasspreker was, en ’n Barnyard-aand.

Francois de Villiers van RFJ Projects het help beplan, die bouwerk behartig en die projek bestuur. Die planne is geteken deur Arnold Barnardo en Divan van Staden van Van Biljon Barnardo Argitekte.

“Ons sien uit daarna dat Corné Schoeman van Hertex ons gaan help om die spasie met blindings te verfraai,” sê Acker.

Die vloere is geteël en groter wasbakke is ingebou.

“Daar is nou genoeg spasie vir voldoende werksoppervlaktes, beter vloei in die kombuis en ook genoeg stoorplek, sodat die kosprodukte in die kombuis gestoor kan word en ons rekenaarlokaal optimaal benut kan word. Die oorspronklike kombuisie word nou as kosstoor en opwasarea gebruik, met ’n aparte voedselvoorbereidings- en -bedieningsarea.

“Bediening geskied nou vanuit die kombuis deur ’n luik.

“Daar is verder ‘n stoep toegebou wat ons skool nou ’n ontvangslokaal bied met ’n groter spasie vir die skoolhoof om ouers te spreek en vergaderings te hou,” sê sy.

Bouprojek kring uit

“Ons kostannies, Louwkie en Elzaan Klein, kook met nuwe entoesiasme, wat my hart warm maak, en ons sien uit om die rekenaarlokaal te gebruik vir dit waarvoor dit ontwerp en toegerus is,” sê Acker.

Die bouprojek het verder uitgekring deurdat die kinders die tuin voor die gebou verfraai het.

“Die kostannies het die rakke in die kombuis geverf, die StoryBox-projek se houer het ’n nuwe laag verf gekry en mense uit die gemeenskap het meubels vir die nuwe administratiewe ruimtes, onder meer ’n lessenaar en kaste, geskenk,” sê Acker tevrede.

Die Hoërskool Stellenberg se bergfietsklub het ook R3 000 geskenk vir nodige toerusting in die kombuis.

“Iets wat ek geleer het, is as jy die regte ding doen, moet jy dit reg doen.

“Daar was baie uitdagings en frustrasie tydens die projek, soos dat die oorspronklike struktuur wat vir die groter kombuis beoog is, oor die bougrens gebou is. Toe ons deur die regte kanale gewerk het, was die eindproduk soveel groter en beter.

“Die skool het meer as ’n kombuis gekry,” het Acker trots gesê

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article