Dubbele moord by begrafnis: Oorledene se pa doodgeskiet, aanvaller doodgeslaan

Die vermeende skieter is deur woedende gemeenskapslede op die toneel gevang en doodgeslaan. Foto ter illustrasie. FOTO: Pexels


’n Pa is in wat vermoedelik ’n bendeverwante skietery is, Saterdag 8 Februarie by sy seun se begrafnis doodgeskiet. Die seun is ook onlangs vermoor.

Die vermeende skieter is deur woedende gemeenskapslede op die toneel gevang en doodgeslaan.

Die 54-jarige oorledene het sy seun, Bremwill “Brempie” Moses, se begrafnis bygewoon toe hy glo deur twee skieters genader is. Een het hom geskiet en hy is op die toneel dood.

Die skieter het op die vlug geslaan, maar woedende gemeenskapslede het hom ingehaal en met enigiets tot hul beskikking aangerand totdat ook sy lewelose liggaam op die grond gelê het.

LEES MEER | Tiener vermoor meisie nadat sy hom nie wou soen nie

Volgens Johannes Bastiaan, ’n bekommerde gemeenskapslid, is hierdie net weer ’n bewys van die vrees waaronder die gemeenskap van Ravensmead leef. “Terwyl ’n bedroefde familie rou, word nog een doodgeskiet. Dit is ’n wrede en sinnelose daad en ons gebede gaan uit na die familie en die breë familie.”

Kapt. Odwa Makapula, ’n woordvoerder vir die Ravensmead-polisie, sê hoewel positiewe leidrade opgevolg word, is niemand nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. “Ons het tot nou ’n baie rustige tyd ervaar en het onlangs verskeie vuurwapens uit die strate verwyder en nou kom hierdie voorvalle weer. Ons doen ook ’n beroep op die gemeenskap om ons te help om die verdagtes vas te trek. Gemeenskapslede is vinnig om video’s en foto’s op ’n toneel te neem, maar hulle kom nooit na vore met inligting wat die polisie kan bystaan nie,” sê Makapula.

  • Enigiemand met inligting oor die moorde kan die polisie by by 021 933 9000 of Crime Stop by 08600 10111 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article