Die Cape Town Funny Festival het Donderdagaand in die Baxter-teater afgeskop en teatergangers kon lag tot hul mae seer was.
Hulle is getrakteer op die seremoniemeester, Alan Committie, se vlymskerp humor, wat deurgaans verseker het dat die verskillende kunstenaars soomloos op die verhoog en van die verhoog af beweeg het. Sy eg Suid-Afrikaanse humor het verseker dat die Suid-Afrikaners in die gehoor gelag het vir goed wat ons in ons daaglikse lewe kwaad maak, soos politici. Daar was deurentyd die gevoel dat hy sy eie “set” moes gehad het.
Lagfees
Die lagfees vier vanjaar sy 27ste bestaansjaar en bars weer uit sy nate met top plaaslike komediante, maar daar is ook ‘n paar buitelandse verskeidenheidskunstenaars wat sous op die dis gooi.
Jason Goliath het die gehoor laat skater van die lag met sy skreeusnaakse vertellings oor padwoede, met die gesamentlike wenners van die 2026 Jive Funny Championsip, Chuma Bentele and Zachary Esau, wat elk met hul eiesoortige humor mense nog meer laat lag het. Groot dinge kan in die toekoms van hulle verwag word.
Die internasionale kunstenaars het afwisseling gebring met die stemnabootser van Engeland, Michael Woodhams, wat elke denkbare sanger se stem perfek sing. ‘n Finalis in Britain’s Got Talent, sal sy uitvoering alleen die kaartjiegeld die moeite werd maak.
Absurd, maar so vermaaklik, is Danie Regano, ‘n ballon-kunstenaar van Spanje se vertoning. Dis moeilik om te beskryf wat hy doen, gaan kyk dus maar self en lag jouself ‘n papie of kyk net in stille verwondering.
Skadu-kunstenaar
Matteo Fraziano van Italië is ‘n skadu-kunstenaar wat sy vingers gebruik om skaduwees teen ‘n wit oppervlak te projekteer. Heel vermaaklik en soms verstommend.
Die aand is afgesluit met die immergewilde Emo Adams wat sy betroubare komies-musikale styl na die gehoor gebring het. Soos gewoonlik weet Emo, wat reeds uit sy moederskoot die verhoë betree het, hoe om die gehoor uit sy hande te laat eet. Indien jy hom al lank genoeg volg, sou van die akkeltjies op die verhoog dalk bekend geklink het, maar vir iemand wat so eg-Kaaps is, gee sy volgelinge regtig nie om om iets weer te sien nie.
Indien jy uitsien na ‘n aand van heerlike, verspotte vermaak wat jou vir ‘n oomblik laat vergeet van al die probleme in die wêreld, is die Funny Festival net vir jou.
Kaartjies is beskikbaar by webtickets. Indien jy groepe van tien of meer is, besoek www.funnyfestival.co.za of kontak feesdirekteur Eddy
Cassar by 082 4503151 of eddy@eddycassarpr.co.za of Carmen Kearns by 076 113 7304.





