Die WP-veteraantrekker-en-enjinklub het ‘n splinternuwe baadjie aangetrek. Verlede naweek is sy opgeknapte klubhuis heropen om 26 jaar se gedeelde passie vir ou trekkers en plaaserfenis te vier.
Gaste van heinde en verre het die geselligheid bygewoon waar die nuut verfraaide ruimte, vol dekades se onthou, in die klub se De Jongh-museum te sien is.
Memorabilia en foto’s van trekkertogte en plattelandse feeste wat oor dekades heen geneem is, hang nou teen die mure — onder meer herinneringe aan die jaarlikse togte na die Calvinia-vleisfees, wat die klub al ‘n kwarteeu lank onderneem.
Met 65 000 toeskouers was die vibe fantasties!
Ook te sien is ‘n fotoversameling van die klub se betrokkenheid by die Kaapse Karnaval, waar veteraantrekkers ses jaar lank die sierwaens getrek het — tot en met die pandemie. “Met 65 000 toeskouers was die vibe fantasties!” onthou Hannes Rheeder, klubvoorsitter en stigterslid.
LEES OOK: Trekkers laat wiel Karoo toe
‘n Groot versameling antieke implemente wat destyds op plase gebruik is, sluit in ou plaasimplemente, naaimasjiene, huisgoed en selfs ‘n ou mampoerstoker met ‘n aksynsnommer.
Teen ‘n muur pryk ‘n 130-stuk versameling mini-modeltrekkers, asook ‘n model van die Alwyn Vincent — die laaste stoomsleepboot in Suid-Afrika. Een van die klublede het destyds gesorg vir die vervoer van die boot van die Kaapse hawe na Villiersdorp.
Kultuurherlewing
Rheeder sê die tyd was ryp vir ‘n opknapwerk. “Die plek was ‘n bietjie vaal, en ons wou iets anders doen om lede meer aktief betrokke by die klub te maak,” sê hy. Die resultaat is ‘n kultuurherlewing wat lede se gedeelde geskiedenis oproep.
Dit het begin met twee broers en ‘n gedeelde liefde vir ou trekkers. Simon en Piet de Jongh het die klub 26 jaar gelede informeel tot stand gebring as ‘n tuiste vir mense wat dieselfde passie deel — ‘n plek waar veteraantrekker-entoesiaste bymekaar kon kom.
Veertien jaar gelede is die De Jongh-museum en klubhuis amptelik geopen en die klub formeel gestig. Die onlangse opknapprojek was geen klein onderneming nie.
“Dit was ‘n groot taak oor baie weke,” sê Rheeder. “Maar vele hande maak ligte werk. Almal het ingespring om te help.” Vir die sportliefhebbers is daar ook ‘n groot TV in die klubhuis geplaas.
Die groot doel is die bewaring van veteraantrekkers en ou plaaserfenis, én om die jeug betrokke te maak.
Vir Rheeder gaan dit egter oor meer as net ‘n mooi ruimte. “Die groot doel is die bewaring van veteraantrekkers en ou plaaserfenis, én om die jeug betrokke te maak,” sê hy. En dié doel word geleef. Die klub se jongste lid is in graad 8; die oudste is Rheeder self.
Hul sowat 50 lede kom uit Kaapstad, Strand, Rawsonville, Augrabies en so ver as Clanwilliam, ‘n ware Westelike Provinsie-verbintenis.
Jaarliks ry lede hul trekkers oor vyf dae deur die Tankwa-Karoo na die gewilde Calvinia-vleisfees, en die klub se uitstalling by die Killarney-motorskou kry elke jaar groot aftrek. Oor naweke verruil lede die stad vir ou plaaspaaie — en die dag eindig, soos dit hoort, om ‘n knetterende vuurtjie by die klubhuis.





