Die buurtwag moedig alle inwoners aan om betrokke te raak.
Die buurtwag moedig alle inwoners aan om betrokke te raak.

Ná jare sonder formele leierskap is die Bracken Heights-buurtwag in Brackenfell gereed om nuwe asem in die organisasie in te blaas.

Die gemeenskap kom op 26 Mei om 19:00 in die L.O. Rall-saal by die Laerskool Brackenfell byeen om ‘n nuwe komitee te verkies — ‘n stap wat inwoners hoop ‘n herlewing sal inlui te midde van toenemende misdaad in die gebied.

Volgens Nadia du Toit, ‘n lid van die buurtwag, is die organisasie nie heeltemal onaktief nie, met ‘n handjievol aktiewe patroleerders wat oor die afgelope paar jaar diens gedoen het.

Daar is egter die afgelope paar jaar geen algemene vergaderings gehou om die nodige leierskap te kies wat vir ‘n suksesvolle buurtwag benodig word nie.

“Ongelukkig benodig so ‘n instansie leiers en met die verkiesing hoop ons dat leiers gekies sal word om dan sodoende meer lede te kan werf wat ‘n groter rol in ons gemeenskap kan speel,” sê Du Toit.

Toename in misdaad

Die herorganisering van die buurtwag kom te midde van toenemende misdaadaktiwiteite in Brackenfell wat meer inwoners direk begin raak.

“Die mees algemene misdade in die omgewing sluit diefstal uit motors, huisbraak, en ‘remote jamming’ by winkelsentrums in. Buurtwaglede se grootste taak is om die oë en ore te wees vir die polisie en sekuriteitsmaatskappye,” sê Nadia.

“Daaglikse aktiwiteite soos om met jou hond te gaan stap, draf, of fietsry in die gebied kan bydra tot patrollies in die buurt. Lede kan ook gebreekte straatligte of slaggate aanmeld,” sê sy.

Volgens du Toit het Bracken Heights sterk verhoudings opgebou met plaaslike sekuriteitsmaatskappye, die polisie, Community in Blue (CIB), Northern Community Initiative (NSCI), en die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Die gebied beskik ook oor ‘n gevorderde kunsmatige-intelligensie-gedrewe CCTV-stelsel deur NSCI.

LEES OOK: Brackenfell inwoners spring self in om area te onderhou

Die buurtwag moedig alle inwoners aan om betrokke te raak by óf die buurtwag óf CIB, ongeag in watter gebied hulle woon, om sodoende veiligheid ‘n prioriteit te maak deur samewerking tussen bure.

Die vergadering sal op 26 Mei om 19:00 in die L.O. Rall-saal by die Laerskool Brackenfell plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article