Bettie Nel nou voltyds Hoërskool Tygerberg se skoolhoof


Die Hoërskool Tygerberg in Parow-Noord het pas ‘n voltydse skoolhoof aangestel. Bettie Nel, wat vir die afgelope drie jaar in dié pos waargeneem het, is nou die skoolhoof.

TygerBurger het by haar uitgevind hoe sy oor haar nuwe aanstelling voel en waarna sy die meeste uitsien in haar nuwe rol.

“Ek is dankbaar oor die aanstelling. Dit is vir my ‘n groot voorreg en verantwoordelikheid om hierdie rol te kan vervul, en ek sien dit as ‘n geleentheid om ‘n sinvolle bydrae tot die skool en sy gemeenskap te lewer.

“Ek sien die meeste daarna uit om saam met die span te werk, verhoudings verder te bou en ‘n positiewe impak op die leerders se ontwikkeling en prestasie te maak. Ek is ook opgewonde oor die geleentheid om nuwe idees te implementeer en saam oplossings vir uitdagings te vind ,” sê sy.

Sy is ook gevra oor wat sy reeds geleer het oor die rol, terwyl sy waargeneem het.

“Gedurende my tyd as waarnemende hoof het ek ‘n dieper begrip ontwikkel van die omvang en verantwoordelikhede van die rol. Ek het geleer dat effektiewe kommunikasie, goeie beplanning en samewerking met personeel en ouers van kardinale belang is vir die gladde funksionering van die skool.

“Ek het ook besef hoe belangrik dit is om konsekwent en regverdig op te tree in besluitneming, asook om ondersteuning en leiding aan personeel te bied. Die ervaring het my geleer om vinnig op uitdagings te reageer, oplossingsgerig te dink en altyd die beste belang van die leerders voorop te stel.

“Verder het ek waardevolle insig gekry in administratiewe prosesse en die hantering van dag-tot-dag skoolsake, wat my meer selfversekerd maak om die rol volhoubaar te vervul,” sê sy.

Daar is ook by haar probeer vasstel hoe sy die skool se leerders en die ouers se ondersteuning by die skool ervaar.

“Oor die algemeen ervaar ek die leerders en ouers se ondersteuning as positief. Die meeste leerders toon ‘n bereidwilligheid om betrokke te wees by skoolaktiwiteite en reageer goed op leiding en struktuur.

“Van die ouers se kant af is daar ook goeie samewerking, veral wanneer dit kom by kommunikasie en die ondersteuning van hul kinders se akademiese en persoonlike ontwikkeling. Dit dra beslis by tot ‘n meer stabiele en produktiewe skoolomgewing.

“Daar is natuurlik altyd ruimte om die vennootskap tussen die skool en ouers verder te versterk, en ek sien dit as ‘n belangrike fokusarea om samewerking en betrokkenheid nog verder uit te bou,” sê Nel.

Sy voeg by: “Die leerders is elkeen iemand anders se kosbaarste besitting en ek beskou dit as ‘n voorreg en eer om met hulle te kan werk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article