Die ou era gaan dalk verby, maar ‘n nuwe een gaan by Bishop Vaardigheidskool begin. Die skoolhoof, Howard Ismaiel, lê die tuig ná 34 jaar in die onderwys en 15 jaar by dié vaardigheidskool neer, waarna Johan Arendse by hom gaan oorneem.
Verskilmaker
Volgens Ismaiel het hy in sy loopbaan daarna gestreef om ‘n verskil in leerders se lewens te maak. “Ek glo daaraan dat jou skool deel van jou familie moet wees en dat elke gemeenskap oor ‘n vaardigheidskool moet beskik,” sê Ismaiel.
Sy droom is dat die jeug beter geleenthede in die toekoms moet kry, maar hy sien nou daarna uit om tyd saam met sy familie deur te bring. “Ek gaan met my kleinkinders speel en myself met kuns en kook besig hou,” sê Ismaiel.
Arendse, wat oorspronklik uit Elsiesrivier kom, is reeds 25 jaar in die onderwys en sy droom is om “elke leerder in Bishop Lavis en omliggende gebiede, wat leerondersteuning benodig, die nodige praktiese vaardighede te leer asook hulle die kans te bied om hul plekke in hul gemeenskap selfstandig te vul”.
Uitdagings
“Ons skool staar baie uitdagings in die gesig. Een daarvan is dat baie van ons leerders uit Delft, Belhar, Bonteheuwel, Clarke Estate en Elsies River kom, dus het ons het baie vervoerprobleme. Leerders kom dikwels laat want die taxi’s, wat onwettig op die pad is, word voorgekeer. Of hulle gebruik taxi’s wat goedkoper is wanneer dit ná 08:00 ry. Ons sukkel geweldig daarmee,” sê Arendse.
Arendse se nuwe filosofie vir die skool is: “Nie een kind gaan agtergelaat word nie.”
* Die skool het onlangs ‘n winkel geopen waar die produkte wat deur leerders gemaak word, te koop aangebied word. Die publiek is welkom om die winkel te besoek en gehalteprodukte teen bekostigbare pryse te koop.





