Deelnemers aan vanjaar se Radio Tygerberg 104FM Tyger Run/Walk wat môre, Saterdag 21 Maart (Menseregtedag) plaasvind, word daaraan herinner dat die roete vanjaar effens verander het.
Die TygerRun/Walk bied twee afstande – ‘n 15km- en ‘n 6km-roete.
Die 15km-roete gaan vanjaar effens anders lyk, met twee veranderings aan die roete wat in die verlede gehardloop is.
Die gedeelte wat voorheen van Kerkstraat om die Hoërskool Durbanville gegaan het via Langenhoven-, Vissershok- en St. Johnstraat na Hoogstraat, val weg. Drawwers sal vanjaar aanhou met Kerkstraat, verby die sirkel en links draai in Aandblomstraat. Die roete gaan dan links in Dagbreeklaan en regs in Suikerbosstraat voordat dit weer by die bestaande roete in Kenridge aansluit. Daar word ook ‘n nuwe gedeelte in Kenridge by die roete gevoeg van die T-aansluiting aan die einde van Franschhoekstraat.
Inwoners van Kenridge word vriendelik versoek om kennis te neem van veranderings aan verkeersvloei op die oggend van die wedloop.
Die wedloop begin en eindig by Tygervallei-winkelsentrum. Die 15km spring om 06:45 weg, en die 6km om 07:15.
Altesame 8 000 atlete neem vanjaar aan die padwedloop deel. Deelnemers word aangemoedig om vooraf die roetekaart op die Durbanville-atletiekklub en Top Events se webwerwe te bestudeer. Besoek gerus durbac.org.za of topevents.co.za vir meer inligting.
Vanjaar se Tyger Run/Walk is ten bate van die Animal Anti-Cruelty League (AACL) se takke in Bellville en Epping.





