Die Rust-en-Vrede-galery in Durbanville het sy deure met sy jongste projek, The Creative Round Art Academy, oopgegooi vir enigeen wat belangstel om nuwe vaardighede in handwerk en skone kunste te leer .
Die akademie is die kunsgalery se amptelike opvoedkundige arm om maatskapike verantwoordelikheid in kuns daar te stel.
Volgens Hamlin Jansen van Vuuren, die senior kurator en hoof van die Creative Round Art Academy, bestaan ‘n groot behoefte in die gemeenskap vir vaardigheidsontwikkeling, blootstelling aan kuns en kultuur en betrokkenheid by kreatiewe projekte.
Insluitende projekte
“Creative Round Art Academy het ontstaan om aan hierdie behoeftes te voorsien. Ons glo aan insluitende projekte, wat beteken die begunstigde, die fasiliteerder en skenker vorm saam ‘n sirkel wat ‘n suksesvolle uitkoms verseker,” sê sy.
Die akademie voorsien werksessies in onder meer vaardigheidsontwikkeling vir die breër gemeenskap, handwerk (of kunsvlyt) vir die beginner-kunsliefhebber, sakementorskap vir mense in kreatiewe bedrywe, asook werksessies gefokus op ‘n breë spektrum van nisvaardighede soos leerwerk, drukwerk en skilder.
Meestersklasse vir meer gevorderde kunstenaars word ook deurlopend aangebied.
Werksessies in portretskilder
Die eerste vaardigheidswerksessie is reeds verlede jaar aangebied.
“Die akademie het met ‘n drukwerk-werksessie weggetrek – onder leiding van Wiehan de Jager vir studente van die FCD Skills Centre in Durbanville. Die werksessie was aanvullend tot hul “Trade for Profit”-kursus.”
Talle ander werksessies in kuns en handwerk, asook skone kunste, het reeds vandeesmaand plaasvind. Dit het onder meer olieverf-werksessies, ringmaak asook werksessies in portretskilder met die oog op die kunsgalery se Portrait Award in 2027 ingesluit.
Die werksessies in portretskilder word steeds op Vrydae van 13:30 tot 17:00 deur Revalle Beaton, ‘n bekende met die keuring van die Portret Award Top-100 en Top-40, in verskillende modules aangebied om van beginners tot gevorderde kunstenaars op die Portret Award 2027-kompetisie voor te berei . Bespreek by revalle@artoflife.co.za.
Baie om na uit te sien
“Ons het is baie om vir die res van die jaar na uit te sien – waaronder ‘n sakewerksessie gemik op die kreatiewe entrepreneur, ‘n werksessie waarin jy jou eie leerrugsak kan maak en, weens groot aanvraag, ‘n herhaling van Alex Emsley se olieverfmeesterklas.
“Die akademie se grootste doelwit is om soveel as moontlik ondersteuning en betrokkenheid van ons gemeenskap te verkry. Mense kan deel van ons sirkel word deur vrywillige mentorskap aan te bied. Kom bied ‘n werksessie aan of ondersteun ons finansieel om ons in staat te stel om meer vaardigheidsontwikkelingsklasse aan te bied, om fasiliteerders te vergoed vir hul tyd en kennis, om kunsvoorrade aan te skaf en selfs ‘n breër gemeenskap te bereik,” sê Jansen van Vuuren.
“Ons gehoor is almal in ons gemeenskap – van voorheen benadeelde mense tot mammas wat iets kreatiefs wil doen terwyl die kinders by die skool is. Geen ervaring is nodig nie danksy voltydse kunstenaars en eksklusiewe klasse wat ‘n ervaring bied vir diå wat iets meer uniek soek.
“Ons bied weeklikse klasse aan en werksessies word gewoonlik op Donderdae en Saterdae aangebied. Hou ons Instagram-blad dop vir inligting oor werksessies.
Kleimuseum vier 40 jaar
Volgens Jansen van Vuuren het sy onlangs die leisels van die Rust-en-Vrede-kunsgalery en -kleimuseum aan Donavan Mynhardt oorgegee.
“Ons kleimuseum vier vanjaar sy 40ste herdenking, wat ‘n baie spesiale mylpaal is – ook omdat die kleimuseum enig in sy soort in Suid-Afrika is. Die viering hiervan het ons laat besef dat ons verantwoordelikheid aan ons gemeenskap veel verder as hierdie pragtige historiese gebou strek,” sê sy.
Dit word deurlopend met verskeie uitstallings deur die loop van die jaar gevier. “Ons fokus nie net op die vorige 40 jaar nie, maar vier ook waar ons vandag staan en kyk na die toekoms – veral met betrekking tot die jeug wat die kunstenaars van die volgende 40 jaar sal wees,” sê sy.
Tans is daar ‘n keramiekuitstalling in die kleimuseum se “Cube” met die titel “90 Shades of Ruby”.
“Dit sinspeel op die idee van die Ruby Jubilee, wat 40 jaar vier. Later vanjaar is daar ‘n groepuitstalling van kunstenaars wat oor die laaste 40 jaar hier by ons uitgestal het met die werkende titel van ’40’. In Junie fokus ons op die volgende 40 jaar met die Junior Portrait-kompetisie en ‘n groepuitstalling van jeug betrokke by Ojji, ‘n kunsopleidingsinisiatief vir kinders.
“In Augustus het ons ‘n retrospektiewe uitstalling van die werk van Theo Paul Vorster, wat jare lank baie by die galery betrokke was en die hoof van die galerykomitee was.
“Die finale uitstalling van die jaar is ‘n groot viering van keramiekkuns met ‘n groepsuitstalling van die werk van lede van die International Academy of Ceramics,” sê Jansen van Vuuren.
- Besoek Creativeroundaa op Instagram of https://rust-en-vrede.com/creative-round/ vir meer inligting oor werksessies deur The Creative Round Art Academy. Stuur e-pos na hamlin@rust-en-vrede.com met navrae.





