Die Laerskool Helderberg in Bishop Lavis gaan ten spyte van verskeie terugslae nie hul herwinningsprogram vaarwel roep nie.
Die projek is in 2025 deur die skoolhoof, Patricia Hendricks van stapel gestuur, waarna Suzaan Cilliers die leisels oorgeneem het. Volgens Cilliers was daar uit die staanspoor dinge wat hul projek wou laat ontspoor. “Ons is `n voorbereidingskool wat van graad R tot graad 3 strek. Die leerders kom uit verskillende agtergronde en omstandighede is soms moeilik.
Probleme
“Ons het reeds van die begin af verskeie probleme ondervind. Om die produkte op die skoolterein te hou, was `n probleem, aangesien ons eenvoudig nie geskikte ruimte het nie. Daarna moes produkte gesorteer word, en om dit te doen, maar omdat die leerders nie die proses juis verstaan het nie, moes dinge gereeld oorgedoen word. Ons het bokse gekoop en dit daarin probeer sorteer, maar ongelukkig het dit ook nie gewerk nie aangesien dit gebreek het. Uiteindelik het dit ons net bykomende geld gekos,” sê Cilliers.
Later kon hulle darem herwinnings-traliehouers aanskaf, wat die proses makliker gemaak het. “Ek en `n ander kollega het mense van `n maatskappy gaan sien en oor wie ons baie opgewonde was. Hulle het die herwiningsmateriaal `n paar keer kom haal. Ongelukkig het die maatskappy gesluit en ons het geen betaling ontvang nie. Ná `n gesukkel het ons nog `n onderneming gekry, maar hulle het dit duidelik gemaak dat hulle uit die suidelike voorstede kom en vir brandstof vergoed wil word. Hulle het ook beloftes gemaak dat die klas wat die meeste produkte herwin, met `n koekpartytjie beloon sal word. Ons moes die maatskappy uiteindelik meer betaal as wat ons vir die herwinningsmateriaal gekry het, en ons het weer `n verlies gely. Niks het ook van die koekpartytjie gekom nie. Gelukkig kon ons privaat regkom met `n skenking en verseker dat die klas wel die partytjie kan hou waarvoor hulle so hard gewerk het,” sê Cilliers.
Kompetisie
Hierdie kwartaal het hulle iets nuuts probeer deur die leerders met kompetisies aan te moedig. “Die kompetisies was die grootste sukses! Daar was `n wonderlike tannie wat een keer vir ons pragtige sakkies vir die leerders wat die meeste produkte gebring het, geskenk het. Die kinders was so gemotiveerd en het massiewe sakke vol bottels gebring. Hulle het met `n bakkie vol bokse gekom en dit was ongelooflik om te beleef hoe gemotiveerd die leerders was. Ek self het ek ook in die gebied waar ek woon, produkte gekry en my graad se kinders het bymekaargekom en mekaar gretig gehelp om dit te sorteer. Dit was wonderlik om te sien hoe die leerders saamgewerk het. My vierjarige seuntjie het ook al die roetine geken en Sondae het ons produkte gaan haal. Selfs my 92-jarige ouma en my ma herwin ook nou en hulle gee ook weekliks hul deeltjie om te herwin. Ons hoof, mevrou Hendricks, se ma en familie het ook dieselfde gedoen,” sê Cilliers.
Positiewe houding
Sy sê daar was tye wat sy negatief geword het, maar Hendricks het `n baie positiewe houding teenoor die projek behou. “Ons het gewis baie hulp nodig. Enige hulp rakende die herwininningsprojek en hoe dit makliker kan verloop, sal baie waardeer word. Ek sal ook net graag vir die leerders wil wys dat hul harde werk raakgesien word en uiteindelik sal hulle `n verskil kan maak, hoe klein dit ook al is. Hulle verdien die waardering en erkenning.”
* Indien jy graag die skool met hul projek wil help, stuur asseblief e-pos na cillierssuzaan0@gmail.com.





