Minister Pieter Groenewald vereer beamptes vir 40 jaar diens by Goodwood-tronk

Dr Pieter Groenewald (regs), minister van korrektiewe dienste, met Makgothi Thobakgale, nasionale kommissaris.

Die minister van korrektiewe dienste, dr. Pieter Groenewald, het Woensdag 11 Maart besoek afgelê aan die Goodwood-korrektiewe sentrum waar hy beamptes vereer het vir hul jarelange diens.

Beamptes is vereer vir hul 40-jaar diens tydens ‘n medalje-seremonie. Die geleentheid, wat beamptes van oor die Wes-Kaap heen vereer het, is begin deur die departement se orkes wat ‘n musiek-item gelewer het, en ook ‘n sangitem deur van sy vroue-beamptes.

Die seremonie vorm deel van die departement se hernude poging om beamptes te erken wat oor die vier dekades heen uitnemende toegewydheid en dissipline gedemonstreer het, lui ‘n verklaring deur die departement.

Waardevolle bates

Groenewald het in sy toespraak aan gaste gesê die mees waardevolle bate van korrektiewe dienste is sy werkers.

“Hoekom sê ek dit?

“Ek sê dit omdat ‘n departement nie kan bestaan as dit nie werknemers het nie. En daarom is werknemers van die departement vir my die belangrikste bate. Want die gehalte werk wat elkeen van u lewer, bepaal die gehalte van die departement.

“Ons is ‘n departement van korrektiewe dienste. Ons lewer dus ‘n diens, almal van ons. En daardie diens wat ons lewer, is ‘n diens aan die mense van Suid-Afrika.

“Ons diens wat ons lewer het verskeie fasette, maar die belangrikste aspek, is om ons mense in ‘n veiliger omgewing te laat floreer, en ons beskerm hulle teen misdadigers,” het Groenewald gesê.

Groenewald het gesê vir misdadigers is daar altyd ‘n tweede kans.

“Maar, ons moet altyd verseker dat daar geregtigheid geskied vir die slagoffers van misdaad en dit is ‘n fyn balans.

“Julle is in die posisie, waar dit deel uitmaak van jul werk – om aan die mense te bewys dat julle kan en dat julle in staat is, om daardie fyn balans te verseker.”

Groenewald het ook gesê dit is waarom hy besluit het om die werkers te vereer.

“Elke ontvanger vandag, is geseënd. Want as dit nie die geval was nie, sou julle nie in staat gewees het om hier vanoggend te wees nie. En ons is altyd dankbaar daarvoor, want ons anker in ons lewe is in ons geloof.

“Ek het gesê dat almal wat in hierdie finansiële jaar uittree uit die departement, en wie kwalifiseer en voldoen aan die vereistes van die medalje, is geregtig op hul medaljes,” het hy gesê.

Beamptes wat reeds afgetree het en nie verrigtinge Woensdag kon bywoon nie, is in absentia vereer.

Groenewald het die wat teenwoordig is, bedank.

Die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, Makgothi Thobakgale, was ook teenwoordig.

Daar is ook medaljes oorhandig vir beamptes met 10-, 20-, en 30-jaarlange diens.

Dr. Pieter Groenewald
Dr Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, tydens die geleentheid Woensdag 11 Maart by die Goodwood-korrektiewe sentrum.

Dankbaarheid

“Dit (die medaljes) is ‘n gebaar van dankbaarheid, om te sê dankie vir u opoffering. Daar is baie mense wat dink korrektiewe dienste is maar net nog ‘n departement. Hulle verstaan nie dat jy daagliks blootgestel word aan hoë risiko’s nie.

“Om ‘n beampte in korrektiewe dienste te wees, beteken jy werk in ‘n vyandiggesinde omgewing met hoë risiko.”

Die departement se aftree-ouderdom is 60 jaar. “Dis 60 jaar weens die omgewing waarin ons werk, die stres wat jy ervaar. En ek weet, jou gesin moet ook die stres hanteer, daarom wil ek jul geliefdes, jul gesinne bedank vir hul ondersteuning,” het Groenewald gesê.

Sonder hul ondersteuning, sou dit nie moontlik wees om te kan oorleef nie, sê hy.

“Ek wil julle bedank, maar ook almal in jul lewens.”

Groenewald het daarop gewys dat daar streng voorwaardes is om in aannmerking vir ‘n medalje te kom. “Daar is sekere reëls met betrekking tot die medalje. Die medaljes is waardevol en jy kan dit gebruik as sigbare bewys van jou diensjare. Wanneer jy die medalje dra, moet jy trots wees. Dra dit met trots,” het hy gesê.

Die medalje is ‘n simbool van die beampte self, en die uitsonderlike werk wat hulle verrig het tydens hul loopbaan. Hy het ter afsluiting alle beamptes bedank.

“Ek is trots op u, en u kan met trots die medaljes dra,” het Groenewald afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article