“Maak vas jou sitplekgordel en wees gereed vir ‘n rowwe rit,” waarsku Phillip van Zijl, bestuurslid van die Tygerberg Sakekamer.
Verwysende na die ramings dat die petrolprys in April met tot soveel as R4 per liter en diesel met tot R7 kan styg, sê hy die sakesektor en die publiek moet hulle voorberei vir moontlike onstuimige ekonomiese tye.
“As sakekamer maan ons ondernemings en individue om nou versigtig te wees en nie groot risiko te neem nie. Huidige voorspellings dui daarop dat ons `n ernstige ekonomiese skok te wagte kan wees weens die toenemende konflik in die Midde-Ooste,” het hy verlede week aan TygerBurger gesê.
Met brandstofprysstygings as `n sneller vir breër prysverhogings regdeur die ekonomie kan verbruikers ook ‘n hoër lewenskoste van April af verwag.
“Die verwagte styging in die brandstofprys in April kan beteken dat daar tot soveel as R28 per liter vir diesel betaal gaan word, en word verwag dat produksie- en afleweringskoste van verbruikersgoedere die hoogte gaan inskiet. Daar is ook kommer oor moontlike brandstoftekorte indien die konflik voortduur, aangesien Suid-Afrika swaar steun op ingevoerde brandstof en ons na raming slegs ongeveer twee weke se brandstofreserwes het,” sê Van Zijl.
`n Volgehoue olieprys bo $100 per vat kan verbruikersinflasie teen die tweede kwartaal van 2026 tot bo 4% op `n jaargrondslag druk, volgens Van Zijl.
Produsente en verskaffers sal eenvoudig geen keuse hê as om die koste na die eindverbruiker af te wentel nie.
“Die pryse van kruideniersware en algemene kleinhandelgoedere sal na verwagting styg namate hoër logistieke en vervoerkoste deur die verskaffingsketting filter. Produsente en verskaffers sal eenvoudig geen keuse hê as om die koste na die eindverbruiker af te wentel nie. En op die landbroufront sal die stygende diesel- en kunsmiskoste waarskynlik voedselproduksiepryse opjaag, wat verdere druk op huishoudelike begrotings sal plaas.”
Impak op die repokoers
Van Zijl meen die vorige verwagtinge vir `n verdere verlaging in die rentekoers vanjaar is nou onwaarskynlik en ekonome verwag eerder `n styging in rentekoerse.
“Die Reserwebank mag dalk `n tydelike skok ignoreer, maar volgehoue inflasiedruk van voedsel en brandstof sal hulle waarskynlik noodsaak om opwaartse aanpassings te maak.”
“Ons kan net hoop dat die situasie in die Midde-Ooste vinnig sal normaliseer sodat die impak nie langdurig sal wees nie. Om alles te kroon, voorspel Suid-Afrika se buitelandse beleid reeds niks positiefs vir ons ekonomie nie,” sê Van Zijl.
Sunel Beeselaar, voorsitter van die Tygerberg Sakekamer, voorspel dat veral afleweringsmaatskappye, vragoperateurs en koeriers onmiddellike kostestygings sal ervaar, juis omdat brandstof `n groot insetkoste is.
“Veral vervoer-intensiewe ondernemings soos logistiek, handel en boerdery, gaan swaar getref word, wat beteken alledaagse noodsaaklikhede gaan duurder raak. Kleiner logistiekfirmas mag sukkel om dit te absorbeer, wat tot hoër afleweringsfooie kan lei,” sê sy.
“Goedere wat van hawens, plase en fabrieke vervoer word, sal duurder wees om te skuif. Kleinhandelaars mag rakpryse verhoog om winsmarges te beskerm, veral op kos en huishoudelike noodsaaklikhede. Boerdery is sterk afhanklik van diesel vir masjinerie en vervoer, en stygende koste sal voedselpryse opstoot, veral die van varsprodukte. Ons kan derhalwe inflasiedruk verwag weens verminderde inkomste.”





