Die splinternuwe LED-straatlige wat vandeesweek in Richwood geïnstalleer is.

Splinternuwe LED-straatligte is vandeesweek in Woodlands-rylaan, Richwood geïnstalleer.

Altesaam 22 straatligte is langs die pad aangebring. Die ligte sal minder krag gebruik en helderder skyn saans, word daar gesê.

Woodlands-rylaan in Richwood is berug vir huisbrake, aanvalle op voetgangers en voorvalle van roof, veral by die gebied by die deurgangshek na die N7-snelweg op die hoeke van dié laan en Morris Shellrylaan. Die gebied is onder inwoners bekend as die “the island”.

Kringtelevisiestelsels, ‘n heining sowel as die deurgangshek is oor die jare hier aangebring om misdaadvoorvalle te help bekamp.

Volgens een van die kontrakteurwerkers met wie TygerBurger Donderdagmiddag gesels het, gaan ‘n sloot gegrawe word om die kabels in te lê, sodra die ligte geïnstalleer is. Die kabelwerk kan nog tot twee weke duur.

Die werk word uitgevoer deur Momotheka Trade Electrical Contractor.

Woodlands-rylaan, Richwood kry nuwe straatligte.
Die deurgangshek waar misdaad-voorvalle dikwels voorkom in Woodlandsrylaan, Richwood.

Die plaaslike Richwood-buurtwag het die installering van die straatligte verwelkom, en die wyksraadslid Miquette Temlett bedank wat dit moontlik gemaak het.

Temlett het ook vandeesweek die nuus oor die nuwe straatligte met die publiek op haar sosiale-mediablad gedeel. Sy sê die staatligte sal sigbaarheid verbeter en veiligheid, veral rondom die hek, bevorder.

Die buurtwag sê op hul beurt die gebied rondom “the island” sal nou beter belig wees en dat dit hulle sal help met die identifisering van individue wat die gebied binnekom. Dit sal ook sigbaarheid en veiligheid verbeter. “Projekte soos hierdie maak ‘n ware verskil in die versterking van gemeenskapsveiligheid, en ons is innig dankbaar vir die voordurende ondersteuning,” het die buurtwag op hul sosiale-mediablad met verwysing na Temlett geskryf.

Woodlands-rylaan in Richwood kry nuwe straatligte.
Die kontrakteur, Momotheka Trade Electrical Contractor, Donderdag besig in die gebied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article