NTK-rugbyklub vier 75-jaar van rugby, veerkragtigheid en gemeenskapsontwikkeling

Johan Lloyd (president), Arthur Reichhardt (middel) en Gert Rademan (voorsitter van die Goodwood-rugbyklub). Reichhardt oorhandig die spesiale aandenkingsgeskenk aan Rademan.

Die Connect NTK-rugbyklub in Parow vier vanjaar sy 75ste bestaansjaar en daar is die afgelope naweek ´n geleentheid gehou om dié mylpaal te herdenk. Die geleentheid is op Saterdag 7 Maart by die klub se sportveld by die Jan Burger-sportkompleks in De Grendelweg, Parow-Noord, gehou.

Arthur Reichhardt, die eerste span se bestuurder, sê al vier hul spanne speel vanjaar ook in die span se oorspronklike rugbytrui ter ere van die viering.

“Ons het vir omtrent vyf jaar in die trui gespeel, voordat ons oorgeskakel het na die bloedrooi trui,” sê hy.

Die rugbyklub is geïnspireer deur die 1955 Britse en Ierse Leeus wat destyds in Suid-Afrika getoer het, waarna die klubkomitee besluit het om die trui na die bloedrooi kleur te verander.

Vanjaar speel hulle net in die oorspronklike wit-en-rooi trui, sê Reichhardt.

NTK-rugbyklub
Carlos da Costa (voor), die eerste span se kaptein, vang die bal in die wedstryd op Saterdag 7 Maart.

Die span het die Super A-ligabeker reeds ses keer gewen – 1966, en ook van 1992 tot 1996, vyf jaar in ‘n ry. “Ons is die enigste pan wat dit kon regkry,” sê Reichhardt.

Die NTK-rugbyklub is amptelik gestig op 15 Februarie 1951.

Reichhardt, wat ook die naweek as erelid van die Tokyo Crusaders ingehuldig is, vertel dat die ou Parow-rugbyklub en ou Maitland-rugbyklub saamgesmelt om die Noordelikes Rugbyklub te vorm. “Vandag staan dit bekend as Connect NTK (Noordelikes Tygerberg Klub) RFC,” sê hy.

Die rugbyklub sê 75 jaar is ‘n merkwaardige mylpaal.

NTK-rugbyklub
Die NTK-rugbyklub se eerste span het die wedstryd 44-22 gewen.

Die nuus en foto’s van die naweek se verrigtinge is ook op hul sosialemediablad gedeel.

“Deur die slegte en goeie tye, het die klub nog altyd sterk gestaan, as gevolg van die mense wat dit steun. Dankie aan elke ondersteuner, afrigter, speler en vriend van die klub wat gekom het om die mylpaal saam met ons te vier.

“Ons toekoms lyk goed. Ons is daaraan toegewy om ´n klub te bou wat inklusief is, almal welkom laat voel en ´n ware tuiste te wees vir almal wat by die hek instap,” lui ´n inskrywing op sosiale media.

Die klub het die naweek teen die Goodwood-rugbyklub gespeel wat die geleentheid saam met hulle gevier het.

Die o.20’s, derde, tweede, en eerste spanne sowel as “Old Boys” het mekaar die stryd aangesê. Die eerste span het hul teenstanders 44-22 geklop. Die tweede en derde spanne het ook gewen, maar hul o.20-span het ongelukkig verloor. “Dit was ‘n reuse-sukses,” sê Reichhardt.

Kevin Kiewits, president van WPRFU.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article