Die munisipaliteit was die middag op die toneel om die pyp en gat te herstel.

‘n Reuse-sinkgat het Vrydag in Steenovenstraat, Bothasig, voorgekom, enkele meters van ‘n nabygeleë huis en nie te ver van die plaaslike polisiekantoor af nie.

Die gat is om 06:00 deur inwoners opgemerk en is by die Stad Kaapstad aangemeld. Werkers van die Stad se water-en- sanitasie-afdeling was Vrydagmiddag besig om die gebarste pyp – wat glo tot die sinkgat gelei het – te werk. Die teer sou ook dieselfde dag weer herstel word, het ‘n munisipale werker aan TygerBurger op die toneel gesê.

Water is vir ‘n rukkie afgeskakel, wat party huise sonder watertoevoer gelaat het.

Bothasig sinkgat
Honderde liters het straat-af geloop terwyl herstelwerk aan die gang was.

Karen Trollope, ‘n inwoner, het aan die koerant verduidelik dat sy haar suster, Elmarie Jonker, wat oorkant haar woon, die betrokke oggend werk toe moes neem toe die gat verskyn het. ‘n Motor was naby die gebied geparkeer waar die gat voorgekom het, maar is nie beskadig nie.

Sy sê hulle vermoed dat ‘n pyp gebars het, wat tot die sinkgat gelei het. Dis die eerste keer dat so iets hier voorkom, sê sy.

Jonker se water is afgesny terwyl werk aan die gang was, en Trollope het water vir haar familie aangedra, het sy vertel.

Die gebarste asbespype is Vrydag met PVC-pype (plastiekpolimeer) vervang, het ‘n munisipale werker gesê.

Die Bothasig-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die nuus die oggend onder die gemeenskap se aandag gebring. Twee polisiebeamptes het gehelp om lint rondom die gat te span om sodoende die gebied af te sper.

Die beamptes, GPF-lede en die plaaslike buurtwag is deur die GPF vir hul spoedige optrede bedank.

Motoriste is versoek om versigtig te ry.

Die plaaslike wykraadslid, Miquette Temlett, het ook motoriste en inwoners versoek om versigtig te wees wanneer hulle van die pad gebruik maak, aangesien ‘n gedeelte daarvan gesluit was.

Bothasig sinkgat
Werkers was vir ure besig Vrydag om die pype te probeer herstel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article