‘n Suid-Afrikaner wat sy brood en botter in Saoedie-Arabië verdien sê hy is onseker wanneer hy weer by sy werkplek sal kan kom.
Quaid Claassen (hy verkies ‘n skuilnaam) sê hy kom elke drie maande Suid-Afrika toe vir vier weke, voor hy weer na die myn terugkeer. Sy vier weke is nou verby, maar hy kan nie op ‘n vlug klim nie.
Aan genade oorgelaat
“Ons almal is nou op ‘n wag-en-sien basis, want ek dink nie eens my werkgewers weet wat om vir ons te sê nie. Almal is nou aan die genade van die strydende partye en die lughawens oorgelaat,” sê Claassen.
Volgens hom het hy nog nie gehoor of die myn waar hy werk bedreig word nie. “Ek dink nie dis die tipe teikens wat aangeval gaan word nie, maar in hierdie tye is alles moontlik. Vir ons wat moet werk toe en vir diegene wat moet reis se onthalwe, hoop ek die lugrederye gaan oopmaak, maar meer dat die oorlog moet stop,” sê hy.
Intussen gaan Qatar-lugredery Dinsdag (3 Maart) weer nuwe inligting verskaf oor wanneer hulle weer gaan vlieg.
Lugweë toe
Iran, Irak, Israel, Jordanië, Kuwait, Katar en Saoedie-Arabië is van die lande wie se lugruim toe is en wat daartoe gely het dat duisende mense op lughawens oor die wêreld heen gestrand is.
‘n Bekende wat tans nie uit Dubai kan kom nie, is die radio-aanbieder, Tracey Lange, wat vir KFM werk. Sy het Maandagoggend haar program uit ‘n ateljee in die woestynstad uitgesaai. Uit haar Instagram-plasings kan dit afgelei word dat daar goed na hulle omgesien word en dat hulle nie in enige dreigende gevaar is nie.





