Die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland (VLVK) se Tygerberg-sirkel nooi die plaaslike gemeenskap uit na hul jaarlikse konferensie wat op Donderdag 19 Maart by die NG Kraaifontein Moedergemeente se kerksaal, op die hoek van 9de Laan en Stasiestraat, Belmontpark, plaasvind.
Die verrigtinge begin om 08:15 en die tema vir die dag is “Ons krag lê in spanwerk.” Die konferensie word vanjaar aangebied deur die Bottelary-Koelenhof- en Kraaifontein-takke, en beloof om ’n hoogtepunt op die plaaslike gemeenskapskalender te wees.
Gaste kan uitsien na ’n inspirerende program met uitstaande sprekers, insluitend Johan Tesselaar, wat oor spanwerk sal gesels, Bertus Basson van In die Sop-faam, asook ChrisMarie van Blerk. Daar sal ook sirkelsake en toekennings wees wat die harde werk en prestasies van lede beloon.
Die dag bied verder aan VLV-lede die geleentheid om hul bekroonde handewerk en produkte uit te stal — ’n besondere trekpleister vir besoekers uit die omgewing.
Die koste beloop R100 vir oggendbywoning (tee ingesluit) en R200 vir heeldagbywoning, wat tee en middagete insluit. VLV-lede sowel as lede van die publiek word hartlik uitgenooi om deel te wees van hierdie spesiale dag. Vir meer inligting of om te bespreek, kontak Helena Borchards by selno 079 498 8179.





