By VLV Brackenfell-Varings se afskopvergadering is `n eerbewys vir lang diens, getrouheid, deelname en prestasie oorhandig aan erelid Susan de Villiers van Othello. Sy was voor haar uittrede uit die tak die lid wat die grootste eerbewys vir die Varings gebring het met haar weefwerk.
Sy het menigmaal eerste of tweede plek by die VLV-konferensie losgeweef en dan deurgedring na die Kongres waar haar weefwerk ook altyd skitterend gevaar het.
Die bestuur het by die eerste vergadering vir Dorianne du Plessis as spreker genooi wat die lede verras het met haar interessante praatjie oor Spanwerk — die 2026- VLV-slagspreuk. By aankoms het elke lid een handskoen ontvang en as ysbreker moes elkeen sy maat vind. Daarná het sy een handskoen omhoog gehou en binne 60 sekondes moes lede soveel moontlik gebruike van so `n handskoen — behalwe die gewone gebruik— noem, bv. afstof, was daarmee, koel waai, iets breekbaars binne hou. Dit het tot groot gelag gelei.
Haar spanwerk-praatjie was oor elkeen in `n span se eie persoonlike eienskappe. Verder bemoedig sy die Varings met verskeie voorbeelde van mense wat op rype ouderdom skitterende prestasies behaal het, bv. kol. Harland Sanders wat Kentucky op 65 jaar gestig en nege jaar later as miljoenêr afgetree het. Dorianne sluit haar praatjie af met Matt 25:35-40: “Speel in ons Vader se span.”





