Onderwysers en leerders is baie opgewonde oor hul tassies wat deur Kaapse Forum geskenk is.
Onderwysers en leerders is baie opgewonde oor hul tassies wat deur Kaapse Forum geskenk is.

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandeesweek ’n skenking van 77 skooltasse aan C.L. Willmot Primêre Skool in Uitsig se behoeftige graad-1-leerders gegee én die tasse met skryfbehoeftes gevul.

Hierdie skenking is deel van die burgerregteorganisasie se skooltassieprojek, wat in samewerking met die Virseker Trust aangepak word. Die projek sal toesien dat 400 skooltasse met skryfbehoeftes ter waarde van nagenoeg R600 elk vanjaar aan hulpbehoewende graad 1’s in die Wes-Kaap geskenk word.

Bydrae tot die toekoms

Bernard Pieters, die Kaapse Forum se hoof van gemeenskapsaktivering, benadruk dat toegang tot hoëgehalte onderrig belangrik en onontbeerlik is – veral by skole in die Uitsig-gemeenskappe. “Navorsing het al telkens getoon hoe hoër opleidingsvlakke in ’n gemeenskap is, hoe laer hul werkloosheidsyfer. Die Kaapse Forum hoop daarom dat hierdie skenking ’n belangrike bydrae tot die toekoms van elkeen van die leerders wat by die projek baat, sal lewer.”

Die heel basiese items in ’n graad-1-leerder se skryfbehoeftelys kan ’n ouer minstens R580 uit die sak jaag. In ’n provinsie soos die Wes-Kaap, waar hongersnood sowat 330 000 kinders raak en dié syfer oor die afgelope twee dekades nie afgeneem het nie, is dit verstaanbaar dat duisende leerders se ouers net eenvoudig nie die geld het om skryfbehoeftes te koop nie.

Maak ‘n verskil in lewens

“Ons glo die skenking van skryfbehoeftes aan leerders in die Wes-Kaap sal ’n verskil in hul lewe maak – veral waar hulle nou amptelik hul skoolopleiding begin. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag waarop die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sluit Pieters af.

Vanjaar se projek is weer finansieel moontlik gemaak deur die Virseker Trust, AfriForum, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en PEP, wat beduidende afslag op die skooltasse en die inhoud daarvan gegee het. Die Kaapse Forum kon vanjaar dus meer as dubbel soveel tasse as verlede jaar uitgee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article