Puik speurwerk deur ‘n ondersoekbeampte van die Durbanville-polisie oor meer as jaar heen het vrugte afgewerp toe ‘n moordenaar eergister (Dinsdag 20 Januarie) 15 jaar direkte tronkstraf opgelê is.
Randal Louw (22) van Fisantekraal is Maandag in die Bellville-streekhof gevonnis vir die moord op Donald Jonkers (15) in ‘n bendeverwante voorval op 10 Oktober 2024. Nog ‘n slagoffer, Jerodin Eimon (19), is noodlottig in die skietery getref.
Die drie verdagtes is in hegtenis geneem. Die ondersoekbeampte, AO Heinrich Marais, het met sy deeglike ondersoek genoeg bewyse ingesamel om die beskuldigde aan die pen te laat ry, lui ‘n mediaverklaring deur die provinsiale polisiewoordvoerder.
Buiten 15 jaar direkte tronkstraf, is Louw ook gevonnis tot 10 jaar tronktraf vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en 12 maande vir die onwettige besit van ammunisie. Die drie vonnisse sal samelopend uitgedien word.
Sy medebeskuldigdes sal in Februarie gevonnis word. Hierdie vonnisoplegging sal deur ‘n ander landdros behartig word omdat die landdros wat Louw gevonnis het, een van hierdie twee beskuldigdes tevore in ‘n ander saak gevonnis het.
Dié puik speurwerk het daartoe bygedra dat Marais verlede jaar as die Durbanville-polisie se Beste Speurder vir Algehele Prestasie vir 2025 aangewys is. Volgens kol. Gonum Munsamy, stasiekommissaris van die Durbanville-polisie, is hy vir sy professionele werkwyse beloon.





