Die Hoërskool De Kuilen in Kuilsrivier se matrieks van 2025 het ‘n slaagsyfer van 98,7% in die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen behaal.
Uit 315 kandidate het 311 geslaag, waarvan 233 (74%) toegang tot graadstudies (universiteitsvrystelling) behaal het.
Die matrieks het altesaam 193 vakonderskeidings verwerf. Die skool pronk ook met 11 vakke met ‘n 100% slaagsyfer.
Toppresteerders
Vyf leerders het met algehele onderskeidings geslaag.
De Kuilen se toppresteerder is Rowan Phillips, met ‘n gemiddelde van 92,14% en sewe onderskeidings. Met die uitsondering van fisiese wetenskap (85%) het Rowan vir al sy vakke bo 90% behaal. Sy beste punt is 96% vir Afrikaans eerste addisionele taal (EAT).

“Ek het verlede week my finale aanbod van die Universiteit Stellenbosch gekry om medies te swot,” sê Rowan.
Sy raad vir vanjaar se matrieks is om alles te gee. “Potensiaal is oneindig. Vorm studiegroepe met jou mede-matriekulante. Moenie bang wees om vir hulp te vra nie!” Dit is wat hy gedoen het en hy het reg deur die jaar daarby gebaat, vertel Rowan.
“Werk hard van dag een af, want sukses is die somtotaal van stukkies harde werk oor ‘n lang tyd.”
My wiskunde-meneer het altyd gesê: ‘What you do today, determines tomorrow‘.
Rowan het baie positiewe ervarings by die Hoërskool De Kuilen gehad, maar om deel van die skool se leerderraad te kon wees, staan vir hom uit.
“Dit het my geleer hoe belangrik spanwerk en kommunikasie is. Ek het geleer om na ander te luister, na ander oogpunte vir probleme te soek, probleme op ‘n volwasse manier aan te pak en om werklik iets vir my skoolgemeenskap te beteken,” sê hy.
“Dit het vir my gewys dat leierskap nie daaroor gaan om in beheer te wees nie, maar om ander se stemme te hoor.”
Geniet dit
Ethan Petersen is kort op Rowan se hakke met ‘n gemiddelde van 88,43% en sewe onderskeidings. Ethan het meer as 90% vir Afrikaans EAT, geografie asook ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO) behaal. Hy gaan elektriese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
Ethan sê hoewel die matrieks die eind-doelwit in gedagte moet hou, is dit ook belangrik om jou matriekjaar te geniet. “Maak soveel herinneringe moontlik in graad 12. Werk hard en waardeer elke oomblik.”

Hy kan nie regtig enige hoogtepunte uitsonder nie. “Amper elke dag was pret. Ek het dit geniet omdat ek met awesome vriende omring was. Hulle het dit reggekry om my te laat lag—selfs op my slegste dae,” sê Ethan
Gemma Bloemfontein is met 81,14% en vyf onderskeidings ook onder De Kuilen se drie beste matrikulante. Haar beste punte is vir Afrikaans EAT (92%) en besigheidsstudies (91%). Gemma word ook vanjaar ‘n Matie en gaan regte studeer.

Sy glo bestendige harde werk word beloon en sy raai die huidige matrieks aan om skouer aan die wiel te sit. “Bly consistent en stel realistiese doelwitte. Sit alles in, want wat jy hier doen maak eintlik saak.”
Vir Gemma was haar hele matriekjaar ‘n hoogtepunt. “Maar as ek iets moet kies—my matriekafskeid, die interhuis en my tyd op die skool se senior raad het my matriekjaar soveel beter gemaak,” sê sy.
Xavier Randelhoff (80,43%) en Jessica van Amsterdam (80%) is die ander twee Kuilies wat ook met onderskeiding geslaag het.






You must be logged in to post a comment.