Twee wetstoepassingbeamptes van die Stad Kaapstad is Dinsdag (13 Januarie) in verband met ´n korrupsie-voorval in hegtenis geneem. Die Wes-Kaapse polisie se teen-korrupsie eenheid het hulle in hegtenis geneem.
Die twee beamptes het Maandag 5 Januarie glo ´n dronkbestuurder in Voortrekkerweg, Parow voorgekeer, maar in plaas daarvan om hom in hegtenis te neem, het die beamptes glo R3000 in omkoopgeld geëis, sê konst. Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder.
Die beamptes het glo ´n video van die voorval opgeneem, hul kontakbesonderhede op die motoris se selfoon gestoor, en hom ingelig dat hy die geld aan hulle in ´n latere stadium kan betaal.
Volgens Gwala het die motoris hierna speurders by die teen-korrupsie eenheid genader wie hom opdrag gegee het om saam te speel tydens hul lokval wat Dinsdag onder die dekmantel uitgevoer is. Gwala sê die motoris is kontantnote verskaf wat gemerk was. Hy is opdrag gegee om dit aan die beamptes te oorhandig by die plek waar hulle ooreengestem het om te ontmoet. Die beamptes het opgedaag soos wat daar afgespreek was. Die video is glo voor die motoris vanaf hul selfoon verwyder, waarna hulle die kontant aanvaar het, sê Gwala.
Beide verdagtes is op heter daar betrap en daar is op hul selfone, sowel as die gemerkte kontant, wat as bewysstukke sou dien, beslag gelê. Die beamptes sal in die Bellville-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is.
Wayne Dyason, woordvoerder van die Stad Kaapstad se wetstoepassingeenheid, het die arrestasie van die twee beamptes, wat deel is van hul Leap-inisiatief (Law Enforcement Advancement Plan), bevestig.
Hy sê daar word beweer dat die beamptes Maandagaand ´n motoris in Parow voorgekeer het wat onder die invloed was van drank. Die persoon kon glo nie ´n bestuurslisensie verskaf nie, en die motor was ook ongelisensieërd.
“Die beamptes het glo R3000 se omkoopgeld geëis en toe hy dit nie kon betaal nie, is daar gereël dat hulle die geld later sou kry.”
Dyason sê die voorval is teleurstellend, maar voeg by dat die Stad nie sulke optrede sal duld nie, en dat die eenheid nou met die polisie in hul ondersoek sal werk.
Die polisie moedig slagoffers van korrupsie aan om korruptes te ontbloot deur na vore te kom sodat ondersoek ingestel kan word.





