Jeremy Dietsiso help vroue in sy gemeenskap met kospakkies.

‘n Adjunkhoof aan die Hoërskool De Kuilen in Kuilsrivier het nie sy wortels nie vergeet nie. Daarom gaan Jeremy Dietsiso weer hierdie jaar sorg dat bejaarde vroue in sy tuisgemeenskap iets het om Kersfees te vier.

Dietsiso het in 2022 sy “Mr D’s Grandma Drive” begin ná ‘n besoek aan sy ma in Happy Valley, naby Blackheath. “Ná die besoek het ek by ‘n 86-jarige ouma wat ek ken ‘n draai gemaak. Dit was iemand voor wie ek groot geraak het, en daar was geen elektrisiteit op haar kragmeter nie,” vertel hy. “Ek het toe besluit om Shoprite toe te gaan om vir die tannie kruideniersware te koop. Daar sien ek toe die Kersfees-kospakkies.”

Facebook

Die kospakkies, wat in ‘n emmer verpak word, bevat baie belangrike kosoorte en ook ‘n paar lekkernye. Dietsiso en sy vriend, Marvin Constant, het besluit om tien emmers te koop – dit was toe nog R150 elk – om tien oumas te bederf. “Daarna het ek op Facebook geadverteer en daardie jaar het ons 100 oumas gehelp. Met die aflewering was dit trane van dankbaarheid en blydskap. Vir baie van die oumas sou dit ‘n droeë Kersfees gewees het,” sê hy.

Vanjaar wil Dietsiso groter gaan met die projek. Hy fokus veral op oumas en weduwees. “Daar is so baie hulpbehoewendes oral. My fokus is oumas en weduwees omdat so baie vroue oor die jare op een of ander manier in my lewe gesaai het,” verduidelik hy. “Verlede jaar het ons ons doelwit van 250 kospakkies bereik. Hierdie jaar beoog ek om 500 oumas, tannies en weduwees te help.”

Spesiale dag

Hy beplan ook ‘n spesiale dag met vermaak en etes om die bejaardes te laat voel hoe gewaardeerd hulle is. “Wat as ‘n klein projek begin het, het oor die jare uitgebrei na iets waarna die oumas jaarliks uitsien – en dit alles net met die hulp van die Here,” sê Dietsiso. “Ek is die seun van ‘n enkelmoeder wat baie hard moes werk. Sy het my geleer die waarde van Ubuntu: ek is ‘n mens deur ander mense.”

Dietsiso nooi ondernemings, kerke en privaat persone uit om saam met hulle hande te vat. Individue wat wil bydra of ‘n kospakkie wil borg (nou R180 elk) kan hom kontak by 069 786 5515, jerediet@yahoo.com of op sy Facebook-blad by Jeremy Mkhwanazi Dietsiso.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article