Twee mans, wat aangekla word van die kweek van en handel in dwelms het Dinsdag (28 Oktober) in die Bellville-landdroshof verskyn.
Dit volg nadat lede van die Bothasig-polisie op Sondag 26 Oktober op ‘n laboratorium, waar dagga gekweek word, by ‘n huis in dié gebied afgekom het. Die mans is kort daarna in hegtenis geneem, sê konst. Ndakhe Gwala, provinsiale polisiewoordvoerder.
Volgens Gwala het die polisie ná middernag ‘n klagte van ‘n e-taxibestuurder ontvang dat hy glo nie betaling vir sy dienste van ‘n 31-jarige man van Millstraat ontvang het nie. Die polisie het die klaer na die adres vergesel waar hulle die verdagte en ‘n 22-jarige persoon ontmoet het. Hulle het glo belowe om die taxibestuurder te betaal.
Die polisie het egter tydens hul besoek aan die huis ‘n sterk reuk van dagga bespeur, waarna hulle versoek het om die huis te deursoek. Terwyl hulle dit deursoek het, het hulle op ‘n laboratorium in een van die kamers afgekom waar dagga gekweek word, sê Gwala.
Gwala sê daar is op 205 daggaplante beslag gelê, sowel as ander dwelms wat dagga-sigarette insluit. Daar is ook beslag gelê op ‘n skaal en ‘n swart boek wat handel oor kweeklesse en ander toerusting, sê Gwala.





