Insake “Hou aggresiewe honde op leibande” – dankie vir jou skrywe in TygerBurger gedateer 8 Oktober, Sandra Basson.
Ek was ook in Boland Park die spesifieke dag toe jou hond aangeval is. Die arme onskuldige Jack Russel het nie verdien om so wreed aangeval te word nie.
Daar is menige honde liefhebbers wat nie die erns besef van watter ras gepas is by hul persoonlikheid en omstandighede nie. Diesulkes dink ook hulle is hondekenners.
Daar is ‘n groot verskil tussen hondeliefhebbers en hondekenners. Die eienaar moet volle verantwoordelikheid aanvaar. Die spesifieke eienaar moes wel bewus daarvan gewees het van sy hond se aggressie. Waarom anders het hy sy ma gevra of sy dink hy kan die hond van sy leiband afhaal?
My pleidooi dus aan alle eienaars van honde wat nie sosiaal aangepas is nie om hulle op leiband te hou.
Hondeparke is vir nie-aggresiewe honde. Versoek aan die staffie se eienaar: gaan stap asseblief met jou hond elders en hou hom op sy leiband.
Marijke Marais, Brackenfell


