Die Parow-treinstasie se verval is duidelik sigbaar met taxi’s wat die straat vol parkeer, haweloses wat buite die stasie uitkamp en ‘n onhigiëniese duikweg net ‘n paar van die kwessies wat aandag moet kry.
TygerBurger het die treinstasie in Cloetestraat, Parow, verlede week besoek.
Daar is daarna navrae aan Prasa gestuur wat die fasiliteitbestuur, sowel as wykraadslid Franchesca Walker, voorsitter van Subraad 4, en raadslid vir Wyk 26 wat Parow, Elsiesrivier en Leonsdale insluit.
Walker het genoem sy is bewus van die kwessies wat geopper is.

“Ek kyk na ‘n holistiese benadering om die hele gebied te verbeter en ek wag op ‘n voorstel van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) om ons projek aan te vul en broodnodige verligting vir die hele middestad te bring,” sê sy.
“Die haweloses langs die pad is beslis ‘n hoofpyn, maar ons maak Dinsdae en Donderdae skoon. Die taxistaanplek in Cloetestraat word deur die provinsiale departement hanteer; hulle is ook op Prasa-eiendom geleë.”
Walker het verder aangedui dat sy met belanghebbendes wil saamwerk om die kwessies op te los.

Elders
Roger Cannon, raadslid vir Wyk 2 wat Boston, Churchill Estate, Clamhall, De Tijger, Fairfield Estate en Glenlily insluit, het ook oor die kwessies by die treinstasies in sy gebied – De Grendel, Oostersee en Avondale – gesels. “Ons het nie soveel kwessies soos die Parow-treinstasie nie, maar ons het probleme met die haweloses by die stasies en langs die spoorlyn. Prasa is verantwoordelik vir die treinstasies en Transnet vir die spoorlyn,” sê hy.
Daar word nie genoeg deur Prasa of Transnet gedoen om die treinstasies of spoorlyn te beskerm nie, sê hy.
Cannon sê dis eerder organisasies soos die plaaslike buurtwagte en die Stad Kaapstad se wetstoepassingseenheid wat na die welstand van dié fasiliteite omsien.
“Ons het nie ‘n situasie soos by die Parow-treinstasie nie, waar mense buitekant uitkamp nie, maar ons het by tye haweloses wat kamp opslaan en deur die buurtwagte gevra word om aan te beweeg, want dis gewoonlik daarvandaan dat hulle hul misdade pleeg.
“Daar word by huise ingebreek en oor mure gespring. Die buurtwag weet egter wie die mense is, en waarheen hulle gaan,” sê hy.
Cannon sê die Parow-golfklub, wat naby die spoorlyn geleë is, is ook ‘n bron van kommer aangesien haweloses wat van die spoorlyn deur Prasa verwyder word, daarheen beweeg.
Hy sê wetstoepassingbeamptes versoek dikwels dat haweloses uit die gebied beweeg, maar dat hulle net weer ná ‘n rukkie terugkeer.
“Daar is mense wat die hulp wat die Stad Kaapstad aanbied, nie wil aanvaar nie. Die toename in haweloses oraloor is kommerwekkend,” sê hy.
Teen druktyd is nog geen terugvoering van Prasa ontvang nie.






You must be logged in to post a comment.