Die top-12 wenners van die 2025 Shiraz Challenge
Die top-12 wenners van die 2025 Shiraz Challenge

Die Durbanville-wynvallei het oorheers in die top-12 wenners in die 2025 Shiraz SA Uitdaging-wynkompetisie met nie minder nie as vyf wenwyne.

Hiervan is drie van die De Grendel-wynlandgoed – die eerste keer in die geskiedenis van dié 13 jaar oue kompetisie dat drie wyne van een wynplaas wen – en twee van die Diemersdal-wynlandgoed.

Die wenners van dié toonaangewende kompetisie vir shiraz, shiraz-gebaseerde versnitte en rosé, is gister by ‘n toekenningseremonie by Blacksmith’s Estate in die Paarl aangekondig.

Wenwyne

Die wenwyne van De Grendel is sy De Grendel Op die Berg Syrah 2023, De Grendel Op die Berg Syrah 2022 en De Grendel Shiraz 2021. Die wenners van Diemersdal is sy Diemersdal Shiraz 2023 en Diemersdal Syrah 2023. Ook Stellenrust spog met twee wyne onder die top-12, sy Stellenrust Artisons Blueberry Hill Shiraz 2023 en Stellenrust Artisons Missing Link Shiraz 2023.

Die ander wenners onder die top-12 was Babylonstoren Shiraz 2022, MAN Vintners Skaapveld Syrah 2024, Saronsberg Provenance Shiraz 2023, Tokara Shiraz 2022 en Von The Sir Shiraz 2023.

Riaan Möller, voorsitter van Shiraz SA, het vanjaar se inskrywings geprys: “Ons sien ‘n volgehoue toename in innoverende en terroir-gefokusde wyne, nie net in premium enkelvariëteit shiraz nie, maar ook in versnitte en rosé. Die algehele gehalte is beter as ooit tevore.”

Diversiteit van uitdrukking

Volgens Möller is die paneel beïndruk deur die stylvariasie en deurgaans hoë gehalte. “Dit is bemoedigend om beide klassieke en kontemporêre interpretasies van shiraz te sien wat met soveel sorg gemaak word. Van kragtige, gestruktureerde wyne tot vars, heeltros- gefermenteerde style met ligte aromatiese note – die diversiteit van uitdrukking is iets waarop Suid-Afrika trots kan wees.”

‘n Gerespekteerde paneel wynbedryfskundiges het van 24 tot 27 Junie die inskrywings vir die 2025 Shiraz SA Uitdaging beoordeel. Altesaam 173 wyne van reg oor Suid-Afrika se uiteenlopende wynstreke is ingeskryf, met die meeste van Stellenbosch afkomstig.

Vanjaar se beoordelaarspaneel is gelei deur Edmund Terblanche, keldermeester by La Motte en die stigtersvoorsitter van Shiraz SA. Saam met hom was die wynmaker Elzette du Preez (voorheen van De Grendel en bestuurslid van Shiraz SA), Morgan Steyn, wynmaker by De Grendel (en voormalige protégé in 2019) en die egpaar Samarie Smith-Meletiou en Georgio Meletiou, onderskeidelik ‘n wynjoernalis met internasionale beoordelingsondervinding en die inwonende sommelier by Spier.

Unieke beoordelingsformaat

Vanjaar se Cape Winemakers Guild-protégé en junior paneellid was Nompumelelo Mosaka, tans werksaam by De Grendel.

Die paneel het Shiraz SA se unieke beoordelingsformaat gevolg, waar elke beoordelaar hul eie proevolgorde ontvang, sonder dat enige bespreking tydens die proe toegelaat word – ‘n formaat wat in samewerking met die Universiteit Stellenbosch ontwerp is om onpartydigheid en onafhanklike beoordeling te verseker.

Shiraz SA nooi alle shiraz-liefhebbers uit om saam te vier op Nasionale Shirazdag, Donderdag 21 Augustus, ná die sukses van die eerste een in 2021.

Besoek www.shirazsa.co.za vir meer inligting.

Die wenners is (voor van links) Daniela Jansen (Saronsberg), Tom Lennon (MAN Vintners), Mari Branders (Diemersdal), Thea van der Merwe (Journey’s End), Danielle Marais (Babylonstoren), Klaas Stoffberg (Babylonstoren) en Kaylin Willscott (Journey’s End). Agter is Natasha van der Merwe (MC), Johan Jordaan (Spier), Tertius Boshoff (Stellenrust), Morgan Steyn (De Grendel), Riaan Möller (Shiraz SA Chairperson), Ursula Erasmus (Tokara), Rudi von Waltsleben (Von Wines), Andrew de Groot (Fermentis Lesaffre), Dean Fourie (Guardian Peak), Gerhard Swart (Flagstone) Johan Conradie (Vinventions) en Susan Erasmus (Eerste Hoop). Foto: A Gorman Photography

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article