Inwoners van Oakdale in Bellville is nou keelvol van die prostitute wat bedags en snags bedrywig is, hul veiligheid en eiendom bedreig en die impak wat prostitusie op kinders van omliggende skole, wat soggens en smiddae deur die buurt loop, kan hê.
Die inwoners het al verskeie kere gaan kla by die polisie en wetstoepassers wat deur die buurt ry, maar word glo met verskonings van “hulle moet op heterdaad betrap word, hulle pleeg nie moord of rand mense aan nie” weggestuur.
Die probleem is al op verskeie gemeenskapspolisiëringsforums te berde gebring en die verweer is dat die prostitute eers gearresteer kan word as hulle ‘n misdaad pleeg en ‘n saak gemaak word. Die strate in Oakdale waar prostitusie hoogty vier, sluit in De Lange-, Vlei-, Maree-, Middel-, Sydney-, St. James-, Kingsmead- en Pastoriestraat.
Drie gastehuise word na bewering as bordele gebruik en die eienaars se verweer is dat hulle aansoek gedoen het om gastehuise te bedryf.

Ondernemings ly
Amanda Hugo, eienaar van ‘n plaaslike dagsorgsentrum, het haar kommer uitgespreek, veral oor die kamma studente-akkommodasie wat oornag in Oakdale opskiet.
“Van die eienaars het nie eers wettige bouplanne nie en teen die tyd dat jy jou klagte by stadsbeplanning gaan indien, het die eerste meisies reeds ingetrek en jy kry hulle nie weer uit nie. In die laer gedeelte van Bellville, veral in Oakdale en Kingston, staan die prostitute op straathoeke. Wanneer ek soggens om 06:00 van my huis ry, staan hulle in reën en sonskyn voor Leonhof in Sydneystraat en op die hoek van Middelstraat. Daar is veral vier persele waarvan drie aan dieselfde eienaar behoort, wat die meisies huisves.
“Leerders wat van die laerskool kom en nie deur taxis, ubers of hul ouers gebring word nie, maar Voortrekkerweg of Bellville-stasie toe moet loop, word deur die vroue met min klere en wulpse houdings gekonfronteer,” sê sy.
Volgens haar ly sakeondernemings en dagsorgsentrums daaronder, want die prostitute staan op hul stoepe.
TygerBurger het bogenoemde strate besoek en die inwoners was bereid om te praat as hulle anoniem kan bly, weens moontlike intimidasie.
“Ek wil weet of die bure rondom die gastehuise vir toestemming gevra is, want snags is die sogenaamde gaste rumoerig en frustreer dit die honde sodat ons nie kan slaap nie. Boonop word jy gedreig oor jy ‘inmeng’ met die gaste wat in die gastehuise tuisgaan,” kla ‘n inwoner van Kingsmeadstraat.
‘n Inwoner wat al 45 jaar in Oakdale bly, sê sy was altyd trots om te kan sê sy woon in Oakdale, maar met die prostitusie in elke straat swyg sy liewer.
“Soms is hulle vier prostitute bymekaar, dra geen of min onderklere en sit wydsbeen op die sypaadjies met hul gesigte na aankomende verkeer. Van die strate is nie eens op die taxiroete nie, maar die taxi’s ry daar rond asof die gebied aan hulle behoort en die vroue word op en af gelaai,” sê sy.

Kommer rondom skole
‘n Ander inwoner is ook bekommerd oor die impak wat prostitusie op kinders het wat daagliks na en van skole in die omgewing kom.
“Ek verstaan dat baie van die vroue wat die beroep bedryf, kwesbaar en ondersteuning nodig het, maar daar is mos instansies na wie toe hulle kan gaan vir hulp. Dit is kommerwekkend om die toename in die getal prostitute in ons woonbuurt te sien.
“Ons inwoners se veiligheid word bedreig en jy is te bang jou huis te verlaat. Oud en jonk word aan die walglike gedrag blootgestel en dit baat nie jy kla by jou wyksraadslid of die gereg nie; alles val op dowe ore,” sê hy.
Voorstelle is al gemaak dat die polisie en wetstoepassers meer sigbaar moet wees, maar hulle doen ook niks.
Die gemeenskapspolisieforums (GPF) moet met die inwoners kommunikeer om uit te vind hoe hulle oor die situasie voel en hoe hulle kan help om die wetteloosheid in die woonbuurt te beperk.
‘n Ander inwoner sê dat hy sy kinders goeie waardes leer en dat dit onaanvaarbaar is dat gesinne nou met prostitusie moet saamleef.
“Dit is ongelukkig nie moontlik om ons kinders van hierde euwel te weerhou of ons eiendom te beskerm nie. Ons is almal wetsgehoorsame inwoners wat ons belasting betaal en ‘n goeie lewe wil lei, maar word nou met prostitusie gekonfronteer en diegene aan bewind kyk net anderkant toe,” sê hy.
‘n Inwoner in Middelstraat sê dis ‘n gemors hoe voertuie dag en nag die straat gebruik, wettiglik of onwettiglik.
“Ons as inwoners kan skaars in of uit ons opritte, want die taxi’s ry soos jaagduiwels en gee nie ‘n flenter om vir enigiemand se veiligheid nie.
“Daar is meer verkeer snags in Middelstraat as in Durbanweg. Ek wil nie eens die onwettige dwelmhandel in Dirkie Uysstraat bespreek nie. Halfkaal vroue staan oop en bloot daar en hulle ‘pimps’ is in die omgewing om dop te hou dat hulle nie geld inboet nie. Hierdie soort gedrag het ‘n nadelige effek op kinders in kleuterskole, laerskole en dagsorgsentrums, want hulle word vroeg al aan sulke walglike gedrag blootgestel,” sê sy.

Polisie bewus van probleem
Lt.kol. Fienie Nimb, woordvoerder van die Bellville-polisie, het bevestig hulle is bewus van die kwessie.
Wayne Dyason, die Stad Kaapstad se woordvoerder vir wetstoepassing het gesê enige misdaad moet by die polisie aangemeld word.
Hy sê die aantygings teenoor die Stad se wetstoepassingsamptenare is ernstig en ondersoek sal ingestel word. Klagtes oor hulle gedrag moet by Wayne.Dyason@capetown.gov.za aangemeld word of die publiek kan enige nood- of misdaadgevalle aanmeld deur 021 480 7700 vanaf ‘n selfoon of 107 vanaf ‘n landlyn te skakel.
Ten tyde van publikasie is geen kommentaar van Marius Coetser, voorsitter van die Bellville-GPF ontvang nie.





You must be logged in to post a comment.