Die kadette is saam met sers. Elvis Conradie (middel).

Die kweek van selfdissipline en leierskap by die jeug was die doelwit van `n kadetteprogram wat Vrydag by die Hoërskool Scottsdene in Kraaifontein geëindig het.

Die drilkursus is ontwikkel deur sers. Elvin Conradie van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid – spesifiek vir kinders en jongmense in bendegeteisterde gebiede, en is deur hoërskool- en laerskoolkinders van skole in Kraaifontein bygewoon.

“Ons glo in die potensiaal van ons jeug as die leiers van môre en die waarde van hul invloed op die gemeenskap met die regte mentorskap,” sê Conradie.

Die program, sê hy, is daarop gerig om die jeug te leer hoe om verantwoordelikheid te neem, trots te wees en ‘n goeie selfbeeld te bou.

AO Louise Strydom van die Kraaifontein-polisie, wat self `n drilsersant in die polisie was, het Conradie met die opleiding bygestaan.

Skole ywerig om deel te neem

Volgens Strydom lei `n tekort aan dissipline onder kinders in die omgewing na erge boeliegedrag, diefstal en aanrandings by die skole.

“Ouers is te bang om kinders te dissiplineer en onderwysers mag nie. Met die drilopleiding leer die kinders die waarde van dissipline. Dit kan nie skade doen nie, en bring ook hoop vir kwesbare jong mense.”

Sy sê skoolhoofde in die gebied was ywerig om aan die program deel te neem.

Strydom en Conradie het die kinders Vrydag met ‘n sertifikaat vir hul toewyding en harde werk in hul skoolvakansie beloon.

Die projek sal in die Oktober-skoolvakansie voortgesit word, waartydens ‘n familiedag gehou gaan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article