BBV gee terugvoering aan lede: “Ons werk agter die skerms vir ‘n beter Brackenfell”


Die Brackenfell-belastingbetalersvereniging (BBV) het onlangs terugvoering aan sy lede gegee oor die werk wat tans agter die skerms gedoen word.

“Al is ons span steeds besig om uit te brei, het ons reeds met ander belastingbetalersverenigings reg oor die Kaapstadse metropool heen in gesprek getree om gedeelde bekommernisse en uitdagings te bespreek – insluitend dienslewering, ontwikkeling, deursigtigheid, openbare vervoer en die algemene welsyn van Brackenfell,” sê die komiteelid Riaan du Preez in `n skrywe aan lede.

Een van die grootste kwessies wat saam aangepak is, is die gesamentlike teenstand teen die Stad Kaapstad se begroting vanjaar. Verskeie belastingbetalers het saamgespan om hieroor in gesprek te tree. Die begroting is egter verlede week deur die Stad goedgekeur.

“Ons het ook kontak gemaak met wykraadslede om beter insig te kry in munisipale prosesse, prosedures en selfs hul frustrasies, met die doel om brûe te bou en saam oplossings te vind,” sê Du Preez.

Ander kwessies wat aandag verg, volgens Riaan de Lange, nog `n komiteelid, sluit in waterpype wat gereeld bars, dromkrappers wat strate bemors en minibus-taxi’s wat sonder permitte deur woonbuurte ry. Die beplande laekostebehuising in Ruwari is ook bespreek.

“Die probleme wat ons tans met dromkrappers ervaar, raak werklik oorweldigend. Hulle kom selfs op Sondagaande deur die gebied om dromme oop te krap. Vullissakke word oopgeskeur en die inhoud in die straat uitgegooi, wat inwoners week ná week self moet opruim,” sê De Lange.

Volgens hom is die BBV in kennis gestel dat die Stad tans nie beplan om sy herwinningsprogram uit te brei nie, wat beteken dat duisende huishoudings sonder herwinningsdromme gelaat word. Verskeie inwoners het ook berig dat sommige dromkrappers in erwe rondkyk op dae wat vullis verwyder word.

“Wetstoepassing doen bitter min om die probleem daadwerklik aan te pak, aangesien daar eenvoudig nie genoeg patrollievoertuie is nie. Ons is week ná week uitgelewer aan wetteloosheid, en as dit nie vir die bystand van private sekerheidsmaatskappye was nie, sou die situasie heeltemal buite beheer wees.”

Met betrekking tot die Ruwari-ontwikkeling sê De Lange dat die BBV steeds wag op betekenisvolle terugvoering van die Stad, ten spyte van ‘n vergadering met Johann Louw, die Wyk 8-raadslid.

Die BBV het sy dank uitgespreek aan elke gemeenskapslid wat reeds uitgereik het met leiding, hulpaanbiedinge en ondersteuning om inligting meer doeltreffend in te samel en te versprei. “Daardie betrokkenheid maak regtig ‘n verskil,” sê Du Preez.

Hy doen ‘n beroep op inwoners om ingelig en betrokke te bly.

“Ons doen hierdie werk midde-in ons besige lewe, maar die doel bly eenvoudig: om saam aan ‘n beter en meer hegte Brackenfell te help bou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article