250 pakkies is vir boere en plaaswerkers van die Kliprand-gebied voorberei.
250 pakkies is vir boere en plaaswerkers van die Kliprand-gebied voorberei.

‘n Konvooi van voertuie vol vrywilligers en barmhartigheid het op Saterdag 31 Mei vroeg van Engen Winelands 1 Stop vertrek met een doel voor oë: om boere en plaaswerkers in Kliprand by te staan.

Die SA Water Warriors, onder leiding van die stigter Deon Smit, het met 10 voertuie begin en is later versterk met nog vier by Piketberg en Trawal.

Met hul aankoms op Kliprand is hulle deur plaaslike boere ingewag by die kerksaal, waar 250 voedselpakkies afgelaai en voorberei is vir verspreiding aan 250 boere en plaaswerkers.

Meer as net kos

Benewens die kos is klere en linne ook saamgeneem en regverdig onder die gesinne verdeel.

Die uitreik is moontlik gemaak deur 30 toegewyde vrywilligers — almal van die Kaap af — wat hul tyd, energie en harte gegee het.

“Ons finansies is ongelukkig uitgeput en daarom kon ons nie hierdie keer veevoer saamneem nie,” sê Smit. “Ons fokus nou daarop om die res van die jaar fondsinsamelingsprojekte te hou om weer voorraad op te bou.”

Planne vir die pad vorentoe

Die Water Warriors beplan verskeie fondsinsamelingsgeleenthede, insluitend ‘n 80’s-dans op Donderdag 26 Junie en ‘n “high tea” op Vrouedag in Augustus met die gewilde televisiesjef Prim Reddy as gasspreker.

“Ons wil ondernemings en die publiek aanmoedig om betrokke te raak,” sê Smit. “Ons boere en hul werkers werk douvoordag tot laatnag om seker te maak daar is kos op ons rakke en uiteindelik op ons borde.”

‘n Hartklop vir die landbou

Smit beklemtoon die rol van die boer in elke Suid-Afrikaner se daaglikse lewe. “Of dit nou kos of klere is, êrens het ‘n boer sy hand in daardie produk gehad.”

Sedert 2018 tot einde 2023 het SA Water Warriors elke twee maande ‘n uitreik onderneem, maar van begin 2024 was daar slegs vier, hoofsaaklik as gevolg van finansiële uitdagings. “Ons gee nie moed op nie,” sê Smit.

“Maar ons het die publiek én die sakewêreld se hulp nodig.”

Volgens hom is donasies van ondernemings ongelukkig baie min.

“Die publiek dra die grootste las, en daarvoor is ons dankbaar. Maar ek wil net noem: ons is ‘n geregistreerde PBO en kan dus 18A-belastingsertifikate uitreik vir enige skenkings,” sê hy.

Vir dié wat wil help, nooi Smit uit om by SA Water Warriors se Facebook-groep aan te sluit.

LEES OOK: Kyk | Goodwood-vrou se vinnige denke verhoed rooftog

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article