Die Sonstraal Superette in Amanda Glen het onverwags op 1 Augustus sy deure gesluit. ’n OK-supermark maak eersdaags daar oop. FOTO: Yolande van Huffel


Vyf van die sewe werknemers van die Sonstraal Superette in Amanda Glen, wat hul werk kwyt is nadat die supermark verlede maand ná sowat 30 jaar uit die bloute sy deure gesluit het, het hulle nou tot die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gewend.

Volgens Yolande van Huffel, wat ses jaar as mede-bestuurder daar gewerk het, het sy die middag van 1 Augustus by die supermark aangekom vir haar skof toe die bestuurder die deure toemaak en aan haar en die ander werknemers sê “die supermark maak nou toe en hulle het nie een meer ’n werk nie”.

Dit was nadat sy herhaaldelik in die voorafgaande weke vir hom gevra het of hul werk veilig is toe sy besef het alles is nie pluis nie, sê sy. “Die Woensdag nog het hy gesê ons moenie worry nie, ons werk is veilig. Die Maandag, letterlik vyf dae later, toe sluit hulle die deure.

“Nie een van ons het ook ’n werksooreenkoms met die supermark nie, ondanks herhaaldelike versoeke daarvoor,” sê sy.

Van die werknemers het onderskeidelik 13 en 18 jaar daar gewerk, en die meeste is enkelma’s.

Een werknemer was skaars terug van kraamverlof nadat sy die lewe aan haar vierde kind geskenk het.

Werkloos

Chrislene Kaptein (39) van Fisantekraal was 13 jaar ’n kassier by die supermark. Sy is die enkelma van twee dogters en is nou werkloos.

Haar suster, Megan Kaptein (38) van Fisantekraal, wat sewe jaar daar gewerk het, se gesin met vier kinders het op haar salaris staatgemaak. Nou is sy en haar man albei werkloos.

“Dit was ’n groot skok; ek was net drie weke terug van kraamverlof,” het sy gesê.

Die ontevrede voormalige werknemers van die Sonstraal-Superette is (van links) Janine Cupido, Chrislene Kaptein, Johanna Antonie, Megan Kaptein en Yolande van Huffel.FOTO: Anele Mfazwe/Die Son

Janine Cupido (48) van Bellville-Suid, wat byna 18 jaar daar gewerk het, is nou ook werkloos.

Die supermark op die hoek van Fisant- en Hebronstraat het in Oktober verlede jaar van eienaar verwissel.

Die nuwe eienaar, Dimitri Genarakis, het die hele gebou waarin die supermark geleë is, in Februarie vanjaar gekoop.

“Wat my die kwaadste maak, is dat hulle tot op die einde vir ons gesê het ons werk is veilig, ons moenie worry nie. Ons kon intussen al ander werk gesoek het,” sê Van Huffel.

Sy meen die eienaar het in die moeilikheid beland toe hy die superette as sekuriteit vir ’n sukkelende supermark in die Paarl aangebied het.

Hulle is hul salaris vir Augustus, asook verlofuitbetaling aan die einde van Augustus belowe, asook “moontlik twee weke of meer se salaris in September”.

Bedankingsbrief

Toe word net hul salaris einde Augustus inbetaal. Nadat hulle kapsie daarteen gemaak het, is hulle glo aangesê hulle moet na die winkel gaan en ’n bedankingsbrief ingee voordat dit uitbetaal kan word. Die meeste het egter geweier.

“Hulle wou ons dwing om te bedank om ons verlofgeld te kry. Dit sou daarop neerkom dat ons al ons regte verloor en kan ons niks teen hulle doen nie,” het Van Huffel gesê.

Dit is toe wel later uitbetaal, maar hulle is glo gesê daar is dan geen sprake van enige verdere salaris in September nie, sê Van Huffel.

Sy en vier ander werknemers het ’n klagte by die KVBA aanhangig gemaak dat hul werkgewer nie die regte prosedure gevolg het nie, hulle onregmatig afgedank het en geen skeidingspakkette aangebied het nie.

Genarakis het aan TygerBurger gesê geen werknemer is afgedank of afgelê nie.

“Hulle is nog almal op ons betaalstaat en sal betaal word, al dryf die supermark nie meer handel nie – ook vir September en totdat die kwessie afgehandel is,” het hy gesê.

Besig met proses

Hy het ook gesê hy is besig om met van die werknemers te onderhandel, maar nie een van die werknemers met wie TygerBurger gepraat het, sê hulle is daarvan bewus nie.

“Ons is besig met ’n proses, maar dié wat na die KVBA gegaan het, het die proses vooruitgeloop,” sê hy.

Hy het gesê hy gaan ’n menslikehulpbron-konsultant aanstel om die proses verder te bemiddel.

Volgens Genarakis moes hy die supermark weens finansiële redes sluit. “Dit is nie ons beleid om nou ons werknemers, nadat sommige al 18 jaar daar werk, in die tande te skop nie.”

Hy het gesê die finansiële moeilikheid het ontstaan toe hy die supermark as sekuriteit vir ’n supermark in die Paarl gebruik het, en albei misluk en hy die gebou verloor het. ’n Nuwe supermark sal glo eersdaags daar oopmaak.

Die saak kom volgende Woensdag (21 September) by die KVBA in Kaapstad voor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article