Die Goodwood-brandweer het die 45 kinders kom inlig oor wat hul werk behels.


Altesame 45 kinders van woonbuurte in die noordelike voorstede kry vandeesweek die kans om ’n Bybelskool gedurende die vakansie by die Tygerberg-dienssentrum in Parow by te woon.

Die Bybelskool het Maandag 4 Julie begin en word Vrydag met ’n ete afgesluit. ’n Propvol program is vir die kinders gereël.

“Gedurende 1986 en 1987 het ek, my man en twee vriende gedurende vakansies Bybelskole gebou vir Meals on Wheels by Katryntjiesdrift, ’n vakansieoord buite Wellington, asook by die private vakansieoord buite Buffeljagsrivier. My ouers was die kokke en die kinders het daardie jare so lekker geëet dat hulle sommer elke vakansie saam met ons wou gaan. Die afgelope paar jaar pla daardie reaksie van die kinders my erg, en toe die Covid-19-reëls ’n bietjie verlig is, het ek aan die werk gespring,” sê Anne-Marie Watt, bestuurder van die dienssentrum.

Sy het Lenie Virgin genader en gevra of sy sal help met die beplanning van die week lange program.

Daarna het Watt ook ander vroue gevra om te kom help om die week vir die kinders lekker en ’n sukses te maak.

“Ek kan jou nie sê hoe opgewonde die vroue was nie. Hul opgewondenheid was aansteeklik en elkeen het ’n afdeling gekry waarvoor hulle verantwoordelik is. Elke dag word begin met ’n ontbyt, waarna die kinders stiltetyd hou met ’n godsdiensles. Mariaan Rabie en Virgin behartig dit.

“Ek dink ook nie kinders sal baie lank kan stilsit nie, en speel dan speletjies en doen kuns- en handwerk.

“Die speletjies en kunsbenodigdhede is alles geskenk deur Barbara Duminiet, ’n vrywilliger wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Die kinders word ook deur Grant Welsch vermaak. Hy is een van talle gaste wat optree,” sê Watt.

Op Vrydag 8 Julie wil die dienssentrum ’n heerlike aansit-ete vir die kinders aanbied, wat ‘n voor-, hoof- en nagereg insluit.

“Ons het verskeie donateurs gevra om klere, komberse, eetgoed en ander artikels te skenk, maar ons grootste behoefte is aan komberse en warm klere vir die kinders.

“Wanneer ons maaltye in die omliggende woongebiede in die agtergeblewe gemeenskappe gaan uitdeel, is daar soveel van die kinders wat kaalvoet kom kos haal en sommige het ’n kortmouhemp aan, met ’n handdoek om hulle gevou teen die koue en reën. Hul voetjies is stukkend en vol sere omdat hulle nie skoene aan het nie.

“Die behoefte daar buite is so groot en ons wil baie graag vandeesweek in hierdie 45 kinders se lewens ’n verskil maak. Ons wil hulle bederf met die heerlikste eetgoed, aantrek met die pragtigste klere en onbeperkte liefde gee,” sê Watt.

Sy doen ook ’n beroep op ander donateurs om nie-bederfbare produkte te skenk sodat hulle elke kind Vrydag met ’n kospakkie kan huis toe stuur om ook in hul huislike omstandighede ’n verskil te maak.

“Ons beplan om in die Septembervakansie voort te gaan met die projek en het hulp van ander maatskappye nodig om klere, kos, geskenke en so meer te skenk, om die projek ’n sukses te maak,” sê sy.

Bel Watt by 083 375 0246 om te help.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article