Vredekloof-inwoners het tot 25 Maart kans gehad om besware in te dien teen ’n reuse- residensiële ontwikkeling, wat beplan word op die plaasgrond agter Vredekloof en oorkant die Glengarry-winkelsentrum.
Sou die aansoek slaag, sal daar 198 huise (enkel- en dubbelverdieping) gebou word. Die woonkompleks sal tussen Vredekloof en reg teenaan die toekomstige R300-hoofwegverlenging geleë wees. Die hoofweg-verlenging sal na raming in 2029 voltooi word.
Bekommerde inwoners het die impak van die beplande ontwikkeling verlede week op ’n gemeenskapsvergadering bespreek.
Daar is gesê dat pad- en rioolinfrastruktuur in Vredekloof nie tans naastenby voldoende is om so ’n ontwikkeling te dra nie.
’n Kennisgewing vir aansoek om hersonering en opdeling van die plaas is op 25 Februarie aan inwoners gestuur. Dit is die derde keer sedert 2010 dat die ontwikkelaars Vredekloof Property Holdings ’n aansoek bring om op die grond te bou.
Leon Brynard, voorsitter van die Vredekloof-stadsverbeteringsdistrik (VRCID), sê die planne dui tans aan dat daar net een ingang na die woonkompleks sal wees, naamlik Wingerdslot – ’n stil straat 230 meter weg van De Bronweg.
“Minstens 300 addisionele voertuie sal dus uit Wingerdslot in Vredekloofstraat langs die laerskool herlei word na die besige De Bron-aansluiting, of na Brackenfell-boulevard aan die ander kant, sê Brynard.
’n Onlangse studie deur die VRCID dui aan dat daar reeds sowat 3 500 voertuie in oggend-spitstyd in en uit Vredekloof ry. Altesaam 13 482 motors word tussen 06:00 en 20:00 getel.
“Die paaie gaan nie verbeter word nie en inwoners vrees dat met dié en ander reuse-ontwikkelings op pad hulle vasgekeer gaan wees in hul wonings.
“Met die bottelnek-verkeer in Brackenfell-boulevard en De Bronweg gaan dit ’n gemors afgee,” sê Brynard.
Volgens hom is die verkeersimpakstudie vir die ontwikkeling nie voldoende nie omdat dit gebaseer is op ’n assessering wat jare gelede gedoen is. “Die assessering het nie die somtotaal van al die toekomstige ontwikkelings in ag geneem nie. Ons eis dat ’n nuwe verkeersimpak-assessering in die gebied gedoen moet word.
Wat rioolinfrastruktuur betref het Vredekloof reeds uitsonderlik hoë aanmeldings van rioolverstoppings, volgens getalle wat deur Subraad 2 verskaf is, sê Brynard.
Stuur kommentaar per e-pos na manager@vredekloof.co.za.




