Vier sauvignon blanc-wyne van die Durbanville-wynvallei is onder die 20 finaliste in die FNB Top Sauvignon Blanc SA 10-kompetisie.
Die 20 finaliste uit vier oesjare is ook ’n bewys van die veelsydigheid én verouderingspotensiaal van die kultivar in Suid-Afrika.
’n Splinternuwe sauvignon blanc-aromawiel – die eerste van sy soort vir Suid-Afrika – is ook bekendgestel.
’n Paneel kenners onder leiding van dr. Carien Coetzee, ervare sauvignon blanc-beoordelaar, het die top-20-finaliste uit 167 inskrywings van 98 produsente aangewys. Dit is die 19de jaar van dié gesogte kompetisie, aangebied deur Sauvignon Blanc SA met die hoofborg FNB en die platinumvennoot Ever Solutions.
Volronde karakter geloof
“Die paneel het die noukeurige gebruik van hout, die balans van groener style se vrugtekompleksiteit, asook die volronde karakter van die 2025-wyne geloof,” sê Coetzee.
“Die 2024-gehoute wyne het uitgestaan, en produsente se vernuf om met komplekse style te eksperimenteer, is geloof.”
Die presteerders uit die Durbanville-wynvallei is (in alfabetiese volgorde): Diemersdal Sauvignon Blanc Reserve 2025; Durbanville Hills Collectors Reserve The Cape Mist Sauvignon Blanc 2024 (gehout); Groot Phesantekraal Sauvignon Blanc 2025 en Maastricht Sauvignon Blanc 2025.
Groote Post Vineyards in Darling spog met drie wyne in die top-20, insluitend twee oesjare van dieselfde wyn – ’n besonderse prestasie. Dit sluit in Groote Post Sauvignon Blanc 2025, Groote Post Seasalter 2024 (gehout) en Groote Post Seasalter 2025 (gehout).
Ander finaliste
Die ander wyne onder die top-20 is Ataraxia Sauvignon Blanc 2025; Cederberg Ghost Corner Wild Ferment Sauvignon Blanc 2024 (gehout); Delaire Graff Coastal Cuvée Sauvignon Blanc 2025; Eikendal Sauvignon Blanc 2025; Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2023 (gehout); KWV Cathedral Cellar Sauvignon Blanc 2023; Langverwacht Sauvignon Blanc 2025; Merwida Sauvignon Blanc 2025; Paardenkloof Springtide Sauvignon Blanc 2024; Rietvallei John B Sauvignon Blanc 2025; Steenberg Barrel Fermented Sauvignon Blanc 2023 (gehout); Tokara Reserve Collection Elgin Sauvignon Blanc 2024, en Vrede en Lust Artisan Range Blanc Fumé 2021 (gehout).
Saam met Coetzee het kenners soos dr. Winifred Bowman (Kaapse Wynmeester en internasionale beoordelaar), Praisy Dlamini (wynmaker en HUB van Adama Wines en HER Wine Collection), wynmakers Morgan Steyn (De Grendel) en Juandré Bruwer (Diemersdal), asook die gasbeoordelaars Liezl Richards (Kaapse Wynmeester en uitvoerbestuurder by Gabriëlskloof) en Lauren Segers-Jewell (Wine Cellar) op die paneel gedien.
Die Top 10-wenners word op Woensdag 15 Oktober by die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-toekenningsgeleentheid aangekondig. Die uitslae sal ook op sauvignonblanc.com en sosiale platforms verskyn.
Aromawiel

Nog ’n hoogtepunt is die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste sauvignon blanc-aromawiel, ontwikkel deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch se Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynnavorsingsinstituut en Sauvignon Blanc SA, in samewerking met South Africa Wine en ander plaaslike en internasionale kenners.
Die wiel is saamgestel uit die sensoriese evaluering van 60 wyne deur 54 plaaslike kenners, aangevul deur internasionale beoordelaars van die Concours Mondial de Bruxelles.
Dit verfyn meer as 200 beskrywings as 72 kerngeure – van wêreldstandaarde tot tipies Suid-Afrikaanse aromas soos naartjie, fynbos en boegoe.
Coetzee sê die aromawiel was ’n waardevolle hulpmiddel in die beoordeling.
Volgens Elunda Basson, voorsitter van Sauvignon Blanc SA, is die wiel ’n mylpaal. “Dit vang die kultivar se aromatiese identiteit vas. Wynmakers, bemarkers en sauvignon blanc-liefhebbers kan dit gebruik om die uiteenlopende style van Suid-Afrikaanse sauvignon blanc te verken – en dit is gratis beskikbaar op ons webwerf by sauvignonblanc.com.”






You must be logged in to post a comment.