Meer as 160 ma’s van die breër Tafelsig-gebied het op Vrydag 10 Mei ’n vroeë Moedersdag-middagete in die Tafelsig-gemeenskapsaal geniet.
Die geleentheid is aangebied deur Broken Crayons Still Colour, ’n gemeenskapsorganisasie wat in 2023 deur ’n groep vroue van die omgewing gestig is. Ursula Peters, stigter van hierdie en die moederorganisasie Mini Footsteps, sê hierdie jaarlikse geleentheid is belangrik om ma’s te laat weet hulle is spesiaal en word waardeer.
“Soms gaan ons deur so baie met ons kinders, maar ons kom daardeur,” het sy die moeders bemoedig tydens die middagete.
Die organisasie fokus op kinders, pensioenarisse, vroue en kwesbare inwoners.
Die plaaslike YMCA het ook gesondheidstoetse vir die ma’s aangebied.
“Ons kinders gee nie meer om vir ons ouers nie. Soms vier ons hierdie dae en ons ma’s is alleen. Niemand gee om nie. So vir my om vir ’n ma ’n bietjie vreugde te bring, al is dit vir vyf of tien minute, is genoeg,” sê Peters aan TygerBurger.





