Die Brackenfell-gemeenskap onder leiding van die Proteahoogte-noord-buurtwag het Saterdagoggend met mag en mening ingespring om die morsige treinstasie skoon te maak.
Sowat 100 swartsakke vol vullis en blare is binne twee ure bymekaargehark en opgetel en 2 000 groente- plantjies is in ’n gemeenskapstuin aangeplant om die stasieterrein aan die Proteahoogte-kant in ’n netjiese, bruikbare perseel om te skep.
Dié groente- en vrugtetuin is sowat twee jaar gelede deur die Jesus in Aksie-groep onder leiding van Ettiene Pio by die stasie ingerig om sopkombuise by te staan.
As ’n inisiatief van Proteahoogte-noord-buurtwag is die projek ondersteun deur die Brackenfell- Lions- en rotariërklubs, Jesus in Aksie-groep, die belastingbetalersvereniging en lede van die publiek.
“Die stasie aan Proteahoogte se kant het baie sleg begin lyk. Ek sien baie min dat Prasa daar skoonmaak en dit het so erg geraak dat dit ’n gevaar geraak het om daar te stap. Stukkende bottels en vullis het oral begin ophoop,” sê André le Roux, die organiseerder, wat aan die buurtwag verbonde is.
Prasa het verlede week met die hulp van die Stad se Wyk 8-kantoor toestemming aan die buurtwag verleen om voort te gaan met die projek en Saterdag kontrakteurs gestuur om die gras te sny.
Letitia Niemand van die Wyk-8 kantoor en helpers het reggestaan met worsrolletjies en koeldranke vir die sowat 30 mense wat skoongemaak het.
“Was dit nie vir al die skenkings van plaaslike sakeondernemings en die publiek nie, sou die projek nie moontlik wees nie en ons sê baie dankie. Ek besef die stasie sal nie vir lank skoon bly nie, maar ons sal voortaan die situasie monitor en beplan ook om later vanjaar met Prasa se toestemming ’n roostuin daar te plant,” sê Le Roux.
Norman Landry, ondervoorsitter van die Proteahoogte-noord-buurtwag, sê die gemors by die stasie word meestal deur die onwettige handelaars op die sypaadjies geskep.
“Die ouens verkoop alles van ou klere tot dit wat hulle in dromme bymekaarmaak, op die sypaadjie. Hulle skeur ook die vullissakke op die stasie oop op soek na iets om te verkoop en los alles net so om deur die wind verwaai te word. Dit was lekker om te sien hoe die mense van Brackenfell hande vat om die stasie skoon te maak. Ons het nie verwag om so baie hulp te ontvang nie. Dit was twee ure toe was die plek skoon. Dis ’n voortslepende probleem wat ons nou ons verantwoordelikheid gemaak het.”





