Sy kan maklik verby jou glip en jy sal nie twee keer kyk nie.
Sy lyk dalk vir jou soos ’n tipiese tiener – skaam en besig met haar eie goed, met haar skoolreënbaadjie se kappie wat laag oor haar oë getrek is.
Dis net as jy nader kom dat jy sien Michelle Motibi (15) is effens anders.
Motibi, wat nou ’n leerder aan die Vaardigheidskool Westcliff is, het in 2012 opslae gemaak toe sy oorleef het nadat sy as vyfjarige brandwonde oor 86% van haar liggaam opgedoen het.
“Sy is die meisie wat die dood gekul het,” lui ’n opskrif. ’n Lewende wonderwerk.
Vir party mense is haar gesig, wat so netjies herstel het, ’n meesterstuk van mediese vaardighede.
Vir ander, soos die ouers van velskenkers, ’n pynlike herinnering aan die dood.
Michelle kan vandag niks onthou van die tyd voor die brand nie. Sy onthou wel die nag wat haar lewe verander het. En dalk net omdat sy dit al soveel keer moes oorvertel.
Sy en haar boetie, Freddie (3), het in hul sinkdakhuis in Wallacedene naby Kraaifontein aan die slaap geraak toe ’n kers omgeval en vlamme die huis verswelg het.
’n Nabye buurman het die deur oopgeskop en Freddie ongeskonde uit die huis uit gehaal. Teen die tyd dat hy en ander bure by Michelle gekom het, was haar hele lyf aan die brand.
Skenkervel
Sy is na die Rooikruis-kinderhospitaal se spesialis-brandeenheid gehaas – die grootste eenheid van sy aard in Afrika. Sy sê sy’t eers besef haar lyf is gebrand toe sy die verbande sien.
Die skade aan haar liggaam was enorm. Buiten die brandwonde aan haar lyf het haar lugpyp ook rookskade opgedoen.
Weens die aard van haar beserings moes dokters haar buik oopsny om die druk te verlig en sodat haar niere behoorlik kon werk.
Mediese personeel het skenkervel op haar begin oorplant toe sy nog ’n terugslag in die vorm van erge sepsis beleef het.
Dokters het nie gedink sy sou oorleef nie.
Dr. Roux Martinez, die voormalige hoof van die eenheid, het destyds vertel hoe hulle Michelle eintlik later gemaklik gemaak het om dood te gaan. Niemand anders het nog voorheen met sulke skade oorleef nie.
“Maar Michelle het besluit ons is nog nie klaar met haar nie,” het Martinez in ’n onderhoud aan IOL gesê.
Martinez se gesig is die eerste ding wat Michelle onthou. “Ek sal dit nooit vergeet nie. Sy was gelukkiger as ek (dat ek leef),” sê sy.
Michelle het binne dae met Martinez geraas omdat sy vir haar sap in plaas van ’n melkskommel gebring het en omdat sy haar gepla het toe sy wou slaap.
Dis toe dat die dokter besef het dié vegter skrik vir niks.
Dit is ook die eerste keer dat hulle besef het hoe parmantig Michelle kan wees.
Die syfers het al menige verstand te bowe gegaan: sy was 21 dae in die waakeenheid, het 24 operasies ondergaan en het 11 keer bloedvergiftiging (septisemie) gekry. Sy het van ses verskillende skenkers vel gekry.
Weldoeners het geld vir haar opvoeding geskenk en sy is ná maande in die hospitaal na die St. Joseph’s-tehuis vir kinders wat kronies siek is, ’n soort weeshuis naby die lughawe. Daar was nog ’n brandslagoffer en kinders met alle siektes onder die son. Sy was tot einde 2021 by St. Joseph’s se skool en kon ook al haar terapieë daar ontvang.
Terug na Wallacedene
Sy het einde verlede jaar na Wallacedene teruggekeer, waar sy saam met haar ma, Ursula, en haar suster, Mischka (18), by ’n vriend van die familie, Piet Jaxa, bly. Haar pa is uit die prentjie; haar broer bly nie by hulle nie.
In soveel opsigte is sy nes ’n gewone 15-jarige wat in ’n minder gegoede area grootword, met al die goed en sleg wat daarmee saamkom.
Sy hou van musiek, dans, vriende, is skaam oor haar voorkoms en onseker oor geld en die toekoms.
Maar sy bly parmantig soos altyd en hoewel ander leerders dit dalk nie agterkom nie, voel sy ook wel soms by die skool op ’n ander manier skaam. Dit is die eerste keer dat sy by ’n skool is sonder enige ander brandslagoffers.
Die brand het beteken sy praat permanent met ’n hees stem en dat haar een hand amper onbruikbaar is.
“Ek kan nie goed doen wat ander mense kan doen nie.”
Soms kyk mense vir haar en dit bly altyd sleg.
“Maar ek sê vir myself ek moet dit oorkom. Mense gaan altyd vra wat gebeur het.”
Sy wil graag ’n vol bos hare hê. Dalk selfs ingeplante hare.
Inspirasie
Westcliff se skool en leerders sê Michelle is ’n inspirasie, en waar Michelle nie maklik oor haar prestasies praat nie, praat die skool wel.
“Sy is ’n go-getter,” sê Ilse Visser, een van haar onderwysers. “Sy het ’n ongelooflike veggees.”
Michelle is kunstig en hou van hul administratiewe modules, sê Visser. Sy gebruik haar een hand so goed, ’n mens vergeet soms van die ander.
Sy vertel nie self nie, maar weens die brand is daar ’n legio goed wat sy in gedagte moet hou – sy kan baie velprodukte nie gebruik nie omdat dit haar kan brand en moet haar vel sover as moontlik teen die son bedek.
Oor haar duisende ure van fisieke terapie om tot op hierdie punt te kom, is sy stil, maar die skool weet.
Sy gaan selfs binnekort ’n prys vir haar deursettingsvermoë kry.
Baie vriende
“En sy’t baie vriende,” sê Visser. Maar Michelle laat nie op haar wag nie.
“Die kinders wil vriende wees met my. Ek vra hulle nie om vriende met my te wees nie.”
Eers as ’n mens haar vra, sal Michelle sê sy voel trots oor hoe sy oor haar veggees voel.
Maar sy is nog nie reg om vir enigeen ’n rolmodel te wees nie, sê sy. Die psigiese letsels gaan dalk nog vir altyd daar bly. Wanneer sy ander brandslagoffers sien, kyk sy weg. “Dit maak seer,” sê sy.





