Dis ook sakekamers en besighede se verantwoordelikheid om munisipaliteite, die provinsiale regering en sy departemente verantwoordbaar te hou vir dienste wat gelewer moet word, het Jannie Strydom, hoof-uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, gesê.
Strydom, ‘n agri-ekonoom met ‘n meestersgraad in landbou-ekonomie, was een van die sprekers verlede Donderdag by die algemene vergadering van die Durbanville-Sakekamer by Stoneshed buite Durbanville.
Goeie verhouding
“Ons is bevoorreg in die Wes-Kaap om met verskeie departemente ‘n goeie verhouding te hê — die departement landbou natuurlik, die departemente infrastruktuur, mobiliteit en arbeid, asook met Eskom en die rampbestuursentrum,” het Strydom gesê.

“Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum het nie sy gelyke in die land nie. Ek voel skaam teenoor ons buurprovinsie, die Oos-Kaap, wat ook groot vloedskade gely het, vir wat ons rampbestuursentrum hier vir ons doen en hoe hulle die hele proses koördineer.
“Ja, ons het beter paaie as in die Vrystaat, maar hoekom is dit? Dis omdat entiteite en strukture soos georganiseerde landbou bly druk plaas op die verantwoordelike partye om dit te doen. As ons gaan terugstaan van hierdie verantwoordelikheid om hulle verantwoordbaar te hou, gaan ons paaie oor vyf jaar nes die in die Vrystaat lyk,” het hy gesê.

Foto: Johan Winterbach/JW Brands
“Dit is die realiteit en ek wil vanaand ‘n beroep op u doen: Moet nie daardie verantwoordelikheid minag nie; neem dit op en hou daardie strukture verantwoordelik. Die belastings wat ons betaal, moet korrek bestuur word — tot voordeel van die besighede en tot voordeel van die landbou daarbuite,” het hy gesê.
Bou netwerke en verhoudings
“Ons (as Agri Wes-Kaap se) mandaat is ook om beleid te beïnvloed. Dit is ‘n groot fokus van ons om netwerke en verhoudings te bou. In tye van rampe soos vloede het ons ‘n direkte kanaal met mense met ‘n oor vir landbou. Dit gaan oor verhoudings wat jy bou in goeie en slegte tye, dat ons weet ons kan op mekaar se knoppies druk.
“Ons het ook uitdagings, en ten spyte van goeie verhoudings het ons elkeen ‘n verantwoordelikheid om instansies en strukture op hul tone te hou,” het Strydom gesê.

“Wat nog aandag kort, is die Kaapstad-hawe. Nie net is landbou afhanklik daarvan nie, maar ook besighede vir hul in- en uitvoere.
“Van ons bedrywe lei miljoene rande se skade, omdat hulle nie betyds hul vrugte kan uitvoer nie.
“Dit is vir ons regtig ‘n groot kopseer en ek aanvaar vir besighede ook. Almal gaan nie hou van waarvoor ons staan nie, maar die operasionele sy van die hawe moet so gou as moontlik geprivatiseer word.
“Die hawe moet soos ‘n besigheid bestuur word. As jy daardie oneffektiwiteit in jou besigheid gehad het, dan het ons nie besighede gehad nie.
“Dit is net absurd wat daar aangaan. en wat kommerwekkend is, is dat die vergaderings op premiersvlak, ministeriële vlak, die vergaderings met Transnet Nasionaal met nasionale ministers net nie kom nie. Daar is nuwe toerusting, maar ons is nie naby vol kapasiteit nie,” het hy gesê.
Bydrae tot uitvoere
“Landbou se bydrae tot die provinsie wat uitvoere aanbetref, is fenominaal, en daar is groot kanse vir uitbreiding.
“Twee aspekte wat ons in hierdie stadium inperk, is Eskom se kragvoorsiening en die Kaapstad-hawe.
“So as julle van jul kant af, waar julle ookal invloed het, druk plaas dat daardie prosesse plaasvind, dat die infrastruktuur ten minste op kapasiteit kom, sal ons dit regtig waardeer,” het hy aan die sakelui gesê.
ALSO READ: How Cape Town communities are growing their own futures





You must be logged in to post a comment.