Uitgereik deur kykNET
Van geliefde gunstelinge soos Molly & Wors tot nuwe stories oor familie-chaos, skandale en tweede kanse, kan kykers uitsien na vier unieke en vermaaklike televisieflieks.
Die TV-filmreeks skop af op Dinsdag 27 Oktober om 20:00 met Molly & Wors – Die geheim van ’n gelukkige huwelik, waarmee dié ikoniese paartjie weer kykers se harte gaan verwarm. Wanneer Molly en Wors onverwags albei hul werk verloor, maar die waarheid vir mekaar probeer wegsteek, begin finansiële druk, wantroue en ’n duur bootreis hul huwelik tot breekpunt dryf.
Lizz Meiring en Willie Esterhuizen vertolk die hoofrolle. Alvin Bruinders, Jai’prakash Sewram, Hanli Rolfes en verskeie ander bekendes speel saam.
Op Saterdag 31 Oktober om 20:00 volg Poeksie Woeksie, ’n skreeusnaakse komedie oor Ouboet van Tonder wat homself agter tralies bevind nadat sy trots en vreugde, ’n tweedehandse Mini Cooper, blyk ’n gesteelde voertuig te wees. Met sy seun se troue om die draai en sy familie wat die waarheid probeer wegsteek, ontvou ’n reeks onverwagte en komiese gebeure.
Die rolverdeling sluit onder andere Frank Opperman, Sally Campher, Louis Minnaar, Anrich Herbst en Willie Esterhuizen in.
Die gelag hou aan op Dinsdag 3 November om 20:00 met Boksburg sonder brieke. Wanneer Vonk Vlok, ’n Boksburgse werktuigkundige, se naam onverwags in die berugte Epstein-lêers opduik, word sy gesin se rustige bestaan in totale chaos gedompel. Terwyl hy probeer verduidelik hoe hy by die skandaal betrek is, stuur familieprobleme, sosialemedia-drama en ou geheime hand aan hand op ’n botsing van epidermiese proporsies af.
Hannes Brümmer, Juanita de Villiers en Karen Retief lei die rolverdeling.
Die reeks word op Dinsdag 10 November om 20:00 afgesluit met Krummels, ’n warm en hartroerende verhaal oor vyf bejaarde vriende wat weier om toe te laat dat ouderdom of teëspoed hulle onderkry. Wanneer hul suksesvolle skoolkosprojek deur ’n afperser bedreig word, besluit die groep om op hul eie manier terug te veg. Dis ’n rolprent oor vriendskap, waardigheid en tweede kanse, met ’n perfekte mengsel van humor en emosie.
Die rolverdeling bestaan uit onder andere Tobie Cronjé, André Odendaal, Elma Potgieter en Sue Pyler-Slabbert.
Uitsaaidatums op kykNET:
- Molly & Wors – Die geheim van ’n gelukkige huwelik – Dinsdag 27 Oktober om 20:00
- Poeksie Woeksie – Saterdag 31 Oktober om 20:00
- Boksburg sonder brieke – Dinsdag 3 November om 20:00
- Krummels – Dinsdag 10 November om 20:00
Hierdie reeks TV-films deur Willie Esterhuizen word eksklusief op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die flieks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Lees ook: ‘Boer soek ’n Vrou’: Dié boere vind liefde | rooi rose







