Uitgereik deur Scoop Communications
Bekommerd oor hoe om jou tuin tydens El Niño welig en groen te hou? Moenie wees nie. Met ’n paar eenvoudige stappe kan jy verseker dat jou tuin mooi en vol lewe bly. Met Tuindag wat Sondag 18 Oktober gevier word, is dit nou die ideale tyd om jou tuin vir die somer gereed te kry.
Craig De Necker van The Friendly Plant, ’n onderneming wat in tuinontwerp en landskapinstallasies spesialiseer, sê die somer kan ’n uitdagende tyd vir tuinliefhebbers wees. Voeg daarby onvoorspelbare wateronderbrekings, ’n besonder warm en droë seisoen en stygende waterkoste, en dit is maklik om te verstaan waarom mense bekommerd oor dorstige tuine is. Vir diegene wat gedurende die vakansie vir ’n lang tyd weggaan, is daar boonop nóg meer rede tot kommer.
Hier is sy wenke om jou tuin op sy beste te laat lyk:
Wees waterwys
- Oorweeg dit om waterhonger plante met vetplante te vervang sodat jou tuin minder water benodig.
- Hoewel vetplante baie min onderhoud verg, kan die regte natmaakmetode ’n groot verskil aan hul gesondheid maak. Craig beveel ’n drupbesproeiingstelsel aan wat water diep in die grond lewer, waar dit die wortels makliker bereik. Dit is belangrik omdat die wortels die deel van die plant is wat water absorbeer. Deur die grond dieper nat te maak, hoef jy minder gereeld water te gee, aangesien dit waterabsorpsie bevorder. Boonop verdamp water teen ’n veel laer tempo as wanneer sproeiers gebruik word.
- Gee vroegoggend of laatmiddag water. Johannesburg Water versoek inwoners om hul tuine slegs voor 06:00 of ná 18:00 nat te maak. Só gaan minder water weens verdamping verlore en kry jou plante meer uit elke druppel.
Gee water op ’n slimmer manier
- Pas jou natmaakmetode by sensitiewe plante soos bonsais en orgidees aan. Hulle benodig besondere sorg.
- Wees op die uitkyk vir tekens dat plante te min water kry, soos blare wat droog en bros word.
- Wees versigtig om nie te veel water te gee nie. Let op na hangende blare. Toets die grond gereeld om te veel water te voorkom. Die grond moenie droog voel nie, maar ook nie papnat en modderig wees nie.
- Maak seker jou besproeiingstelsel werk behoorlik en maak seker daar is nie lekkasies, stukkende plekke of verstoppings nie. Oorweeg’n Wi-Fi-beheerde stelsel waarmee jy die instellings volgens die dag se weerstoestande kan aanpas, selfs wanneer jy nie tuis is nie. As ’n hittegolf byvoorbeeld voorspel word, kan jy die stelsel ’n bietjie langer laat loop. As donderstorms voorspel word, kan jy die besproeiing tydelik afskakel om te voorkom dat die plante te veel water kry.
Gaan jy weg?
- Gebruik droë blare of stukke bas as deklaag. Dit help om die grond te isoleer en vog te behou terwyl jy weg is.
- Maak potplante deeglik nat voordat jy vertrek sodat hulle mooi bly terwyl jy weg is.
- Heroorweeg ook potplante se ligging. Potte word dikwels op plekke neergesit waar hulle nie die volle voordeel van reën kry nie, veral as hulle onder ’n dak of teen ’n muur staan.
’n Plantskou wat bonsais, vetplante en plante vier
Een van Suid-Afrika se grootste plantskoue, die bekroonde Houghton bonsai-, vetplant- en plantskou, word van 30 Oktober tot 1 November 2026 by die Killarney Mall gehou.
Met meer as 60 uitstallers en verkopers is dit die ideale plek om waterwys vetplante vir jou tuin aan te skaf en ’n verskeidenheid seldsame plante, orgideë en bonsaibome van spesialis-kwekers uit te snuffel. Die Witwatersrand Orchid Society neem vanjaar ook vir die eerste keer aan die skou deel, en beplan lewendige orgidee-demonstrasies om 11:00 en 14:00 elke dag.
Bonsai-entoesiaste kan ook ’n boompie wat sukkel na die gratis “bonsai-hospitaal” neem vir diagnose en raad.
Kinders kan op die Saterdag en Sondag by die gratis kindergedeelte besig gehou word. Dit maak die skou ’n heerlike uitstappie vir gesinne, versamelaars, beginnerplantouers en diegene met ’n hand met ’n plant. Toegang is gratis.
Lees ook: Eet uit jou tuin | rooi rose
