Bestanddele:
- 12 snye brood
- Botter of olyfolie
- 1 houer roomkaas
- 1 rooi-ui, gesny
- 1 groen soetrissie, gesny
- 1 geel soetrissie, gesny
- 2 skywe (150 g) fetakaas, gekrummel
- 240 g cheddarkaas, gesny of gerasper
- 3 groot rooi tamaties, gesny
- Sout en peper
- 1 sopie pietersielie, fyngekap
Metode:
-
Smeer botter of olyfolie aan een kant van elke sny. Dis die kant wat buitentoe sal kyk wanneer jy die braaibroodjie aanmekaargesit het.
-
Sit die helfte van die snye brood op hul botterkant neer, smeer roomkaas oor en verdeel die uie, soetrissies, fetakaas, cheddarkaas en tamaties eweredig tussen hulle.
-
Maal sout en swartpeper oor en strooi die pietersielie oor. Bedek met die oorblywende snye brood — botterkant na bo.
-
Braai die broodjies, sien wenke hieronder! Sodra die braaibroodjies reg is, sny elkeen in die helfte. Ek glo die regte manier om ‘n braaibroodjie te sny, is diagonaal, en die regte tyd om dit te eet, is onmiddellik.
rr wenk: Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai en jy braai dit in ‘n toeklaprooster — verkieslik ‘n verstelbare rooster sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik hoog bo die kole wees. Jou doelwit is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is.
Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster telkens na die eerste paar keer se omdraai, oop- en toemaak.
