Deur Candice Tehini
Jy is in ’n nuwe fase van jou lewe en jy weet nie mooi hoe om die jongste mode toepaslik vir jou ouderdom te dra nie. Janine Starkey, die stilis van House of Janine, gee haar wenke en truuks vir hoe om jouself jonger te laat lyk.
“Persoonlike styl is belangrik, dit is meer belangrik om klere wat jou pas pleks van nuwerwetse klere te koop,” sê Starkey.
Hier is ’n paar slim planne:
Vermy soomlyne wat te kort is
Tensy jy pragtige bene het, vermy liefs rompe of rokke bokant die knie. Jou knieë is een van die eerste liggaamsdele wat jou ouderdom verklap.
Bewapen jouself met die regte mode
Vermy moulose bloese, tops of baadjies. Maak nie saak hoe ferm jou arms is nie, jou armvel verklap jou ouderdom maklik.

Vermy moulose bloese, tops of baadjies. Foto: Straupelechit
Kleur, kleur en nog kleur
Swart, grys, wit en beige kan die kleur van jou gesig dreineer. Kies die regte kleure wat jou vel komplementeer en jou glansryk laat lyk. Eksperimenteer met helder serpe en bykomstighede.
Die regte snit
Steek ’n maag of ‘muffin-top’ met die regte snit weg. Die geheim is om klere te dra wat behoorlik pas. Moenie bloese dra wat te styf sit nie want dit sal hierdie deel van jou lyf waaroor jy selfbewus voel, beklemtoon. Moet ook nie te groot, vormlose bo-stukke dra nie want dit kan weer soos ’n tent lyk. Belê in ’n goeie kleremaker as dit nodig is.

Moenie bang wees vir kleur nie. Foto: Anna Shvetsa
Stryk dit uit
Koop ondersteunende onderklere wat jou lyf op die regte plekke vorm gee en vir ’n gladder silhoeët sorg.
Bykomstighede
Maak jou uitrustings interessant met bykomstighede soos halssnoere, gordels, juweliersware, handsakke en skoene. Dit is die maklikste manier om jou voorkoms op te kikker en jou eie styl te skep.

Kikker jou uitrusting op met bykomstighede. Foto: Yaroslav Shuraev
Lees ook: Vroue leef dalk langer as mans, maar hoe goed leef hulle? | rooi rose
