Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts Canon R6
Die 26de Toyota Stellenbosch Woordfees is tans onderweg onder die plataanbome, akkerlanings en in skoolsale en ouditoriums regoor die Eikestad.
Vanjaar se tema, #Dishoogtyd, word op verskeie maniere deur kunstenaars, musikante en akteurs interpreteer.
Die Woordfees het Vrydagaand in Ryneveldstraat afgeskop met die gebruiklike Langtafel, waar 500 gaste aan langtafels saamgekuier het. Die aand se seremoniemeester was Nina Swart en die sjef wat gesorg het dat almal se mae vol bly, was die bekroonde sjef, Mynhardt Joubert, wat een van die eerste Kokkedoor-reekse se wenners was. Mynhardt het vertel dat die meeste van die produkte wat sy kombuisspan vir die aand se heerlike ete gebruik het deur borge verskaf is, wat ook in die kunste glo.
’n Veiling met speelse en interessante goedere soos parkering in die middedorp tydens die fees, wat die feesdirekteur, Saartjie Botha, geskenk het; ’n kunswerk deur die feeskunstenaar, Daniel Benade; en kaartjies na sekere uitverkoopte vertonings is deur Strauss & Co. opgeveil. Die fondse wat ingesamel is, word alles vir die kunste aangewend.
Dean Balie, wat deel van die vertoning, Prima! – ’n musikale vertoning saam met Bianca Flanders en die US-blaasorkes onder leiding van Ramon Alexander – is, het vermaak tydens die ete verskaf.
Die fees het meer as 400 vertonings wat van klassieke musiek, historiese wandelings tot toneel- en leefstyl-aanbiedinge insluit. Die fees wat elke jaar in Oktober gehou word, lok meer as 50 000 besoekers gedurende die agt feesdae.
Daniel Naudé is vanjaar se feeskunstenaar en sy werk is te sien in die US Museum, getitled, Still Life, ’n mikroskopiese diorama-projek waaraan hy sedert 2018 werk. Die uitstalling bring ook werk uit Daniel se vorige projekte byeen, sedert sy eerste ontmoeting met africanis-honde: Africanis (2007-2010), Animal Farm (2009-2011), Sightings of the Sacred: Cattle in Uganda, Madagascar and India (2012-2014), Bowers in Australia (2014), Pigeon Project (2016), Bovine Prophecy (2018-2019), Cattle of the Ages saam met pres Cyril Ramaphosa (2019), en Malagasy Cockerels of Madagascar (2023). Besoekers aan die uitstalling kan die ontwikkeling van Daniel se belangstellings en styl volg, en sien hoe dit opbou tot die monumentale insekte van Still Life (2018-2026).
Tom Dreyer – Stellenbosser, veelbekroonde skrywer en Hertzogpryswenner vir poësie – is vanjaar se feesdigter. Sy jongste bundel, Brief op veertigduisend voet, gee die feestema vlerke. Sy woorde is op die feesterrein opgeplak en hy gesels by verskeie gesprekke met ander digters en skrywers.
Die fees loop Sondagaand ten einde. Kaartjies vir sommige vertonings is nog te koop en verskeie addisionele vertonings is op die program bygewerk. Besoek www.woordfees.co.za vir meer inligting.
Die langtafel

Die aktrise, Nina Swart (middel), was die Langtafel se seremoniemeester. By haar staan Marius en Camine Claassen, Wilna van Heerden en Petra Aucamp, die akteur, Armand Aucamp se ma. Foto: Clifford Roberts
- Die glanspaartjie Caro en Christo Wiese (bekende sakeman en eienaar van onder meer Lourensford wynlandgoed). Foto: Clifford Roberts
- Prosper Kasina en Felix Rukuni verwelkom gaste by die Langtafel met ’n glas Stellenbosch-wyn. Ledeplase van Stellenbosch Wynroetes – wat vanjaar sy 55ste verjaardag vier – het die wyn vir die aand se fees geborg. Foto: Clifford Roberts
Toneel
- FaustX is die jongste werk deur Brett Bailey en is ’n ontstellende, surrealistiese drama oor menslike strewe, versoeking en onbeheerste ambisie. Hierdie 21ste-eeuse dr Faustus, wat gedryf word deur ’n onversadigbare honger om ’n innerlike leegte met betekenis te vul, sluit ’n ooreenkoms met Mefistofeles en bevind hom op ’n pad van uitbreiding, innovasie en beheer. Die produksie is gegrond op die tweede deel van Goethe se meesterwerk.
- Skanse, die nuwe drama deur die Hertzogprys-bekroonde dramaturg Deon Opperman, het Marisa Drummond, Edrien Erasmus, Deon Lotz, Rushney Ferguson en Dawid Minnaar in die rolverdeling. Wanneer Daniël ná sewe jaar onverwags aan sy broer Simon se deur klop, ontvou ’n aand waarin ou wonde oopgekrap word en die skanse tussen broers verbrokkel.
- Laurika Rauch is vir Afrikaans wat Piaf was vir Frans: uniek, aangrypend, onmiskenbaar anders. Liedjies van Laurika is ’n ondersoek na die skeppers en skrywers agter haar unieke musikale styl. Daniel Anderson en Paul Ferraira is te sien in dié vertoning.
- Rachelle Greeff se ‘Grootmeisie’ is die wenner van vanjaar se Reinet Nagtegaal-teksprys. Menopouse dwing Daneel Merwe om terug te stap na kindwees, met ’n ma wat verslaaf is aan suiker en ’n bankbestuurder-pa wat soms in die tuinhuisie wegkruip. Dit het Daneel van der Walt (bo), Jefferson J. Dirks-Korkee, Wian Taljaard en René Cloete in die rolverdeling.
- Kim Engelbrecht in die toneelstuk, A woman alone, wat deur Franca Rame en Dario Fo geskryf is en in 1977 vir die eerste maal opgevoer is, is ’n kragtige en diepsinnige monoloog wat die lewe van ’n huisvrou ondersoek en temas van onderdrukking, bevryding en sosiale kommentaar aanraak.
- A Girl Called Owl met Larissa Crafford-Lazarus is ’n onverskrokke grootwordverhaal oor verlore onskuld, onderdrukte kreatiwiteit, en misverstane liefde.
Boeke
- Melissa Moses het op die stoep by die US Museum vir kinders as deel van die ATKV-aanbieding by die fees uit storieboeke voorgelees.
- Een van die boekbesprekings en voorlesings was “Breyten: Capturer le vent” – ’n tweetalige versamelbundel met gedigte van Breyten Breytenbach in Frans en Afrikaans. Catherine du Toit, die hoof van die departement Frans by die Universiteit Stellenbosch, het met die aktrise Grethe Fox en die digter Lynthia Julius, oor sy nalatenskap en invloed op ’n nuwe geslag digters gesels.
En nog vele meer
- Daniel Naudé is vanjaar se feeskunstenaar en sy werk is te sien in die US Museum, getitled, Still Life.
- Ingrid de Waal, die laventelboer van Canettevallei buite Stellenbosch, was deel van die Leefstyl-program. Sy het feesgangers onder meer van laventel vertel en ook spesiale seepmaak-kursusse aangebied. Feesgangers kon hul eie laventel op die plaas pluk.
Lees ook: Langtafellekkerte | rooi rose












