Uitgereik deur kykNET
Dié Oktober is die kyklys op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET&kie (DStv-kanaal 145) propvol liefdeskinkels, drama, humor, musiek, geloof, nostalgie en erfenis.
Boer soek ’n vrou
Oktober bring groot besluite en romantiese afwagting in Boer soek ’n vrou. Die boere maak hul finale keuses, maar is die pasmaats ewe seker oor ’n toekoms saam? Daarna ontmoet die boere hul gekose pasmaats se familie en vriende voordat die paartjies die plaas vir ’n vakansie verruil. Weg van hul bekende omgewing kry hulle kans om mekaar beter te leer ken en te ontdek of daar werklik ’n toekoms vir hulle as paar wink.
Die groot hoogtepunt is die reünie op 22 Oktober om 20:00. Al tien boere kom bymekaar, en kykers vind uiteindelik uit wie aan die einde van die agtiende seisoen liefde gevind het.
Dieselfde aand word Boer soek ’n vrou se nuwe aanbieder om 21:00 op Bravo! aangekondig. Die soektog na liefde gaan ook voort: Seisoen 19 se toptienboere word op 29 Oktober om 21:00 bekend gestel. Daarna kan voornemende pasmaats inskryf en ’n kans op plaasliefde waag.
- Boer soek ’n vrou is tot 22 Oktober, Donderdae om 20:00, op kykNET. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
TV-flieks uit Willie Esterhuizen se pen
In Oktober word die eerste twee van vier TV-flieks deur Willie Esterhuizen op kykNET uitgesaai. In Molly & Wors: Die geheim van ’n gelukkige huwelik word Molly (Lizz Meiring) en Wors (Willie Esterhuizen) se verhouding deur werkloosheid, geldsorge en geheime beproef. Boonop het Molly ’n duur bootvakansie bespreek om hul huwelik te red. Die tweede fliek, Poeksie Woeksie, is ’n uitvloeisel van die geliefde komediereeks Orkney snork nie. Hier is dit chaos wanneer Ouboet (Frank Opperman) onskuldig agter tralies beland. Terwyl Yollie (Sally Campher) die familiekrisis hanteer, moet hy sy onskuld bewys om betyds vir sy seun se troue tuis te wees.
- Molly & Wors: Die geheim van ’n gelukkige huwelik wys op Donderdag 27 Oktober om 20:00 en Poeksie Woeksie is Saterdag 31 Oktober om 20:00 op kykNET. Die flieks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Boekmerk
Boekliefhebbers kan dié Oktober saam met die digter en skrywer Danie Marais die wêreld van Afrikaanse stories verken. In dié nuwe joernaalprogram Boekmerk ontmoet hy bekende en opkomende skrywers, woon boekgesprekke by en kuier by leeskringe dwarsoor Suid-Afrika. Oor 13 episodes leer kykers die mense agter die boeke ken sowel as van die entoesiastiese lesers wat ons boekkultuur so lewenskragtig maak.
Die episodes neem kykers na Nataniël, Dalene Matthee se nalatenskap, M.E.R, Antjie Krog, Rudie van Rensburg, Jaco Jacobs en Gaireyah Fredericks onder andere.
- Boekmerk begin Woensdag 14 Oktober om 21:00 op kykNET. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Die digter en skrywer Danie Marais bied Boekmerk op kykNET aan. Foto: kykNET
Daar was ’n tyd
Daar was ’n tyd neem kykers terug na ervarings wat diep in die Afrikaanse gemeenskapsgeheue leef. Rian van Heerden vervaardig dié dokumentêre reeks van agt episodes, wat die mense, plekke en gewoontes verken wat generasies Suid-Afrikaners gevorm het. Van die sirkusjare en diensplig tot konserte, sensuur, radio, televisie en tradisionele kos waarmee mense groot geword het. Die reeks laat jou onthou!
- Daar was ’n tyd begin Woensdag 14 Oktober om 20:00 op kykNET. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Govan ontbloot (Seisoen 2)
Govan Whittles keer terug met ’n tweede seisoen van Govan ontbloot. In 13 episodes ontmoet die bekroonde joernalis Suid-Afrikaners wie se leefwyses en oortuigings dikwels misverstaan word. Met nuuskierigheid en deernis ondersoek hy identiteit, geloof en die behoefte aan gemeenskap.
Hy besoek ’n groep naturiste en daggaboere, en gesels met slagoffers van plaasaanvalle en mense wat as hekse identifiseer. ’n Vrystaatse familie wat hulle afsonder, Govan die Crusaders-motorfietsklub en die Vrymesselaars. Dit sorg vir nuwe perspektiewe.
- Govan ontbloot begin Dinsdag 6 Oktober om 21:00 op kykNET. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Sy, die meeue en die Heilige Gees
Simoné Pretorius vertolk Ingrid, ’n enkelma wat omtrent enigiets kan laat werk, maar met ouerskap worstel. In dié minidramareeks van drie episodes, wat pas op kykNET begin het, verhuis sy en haar sesjarige dogter, Zoey (Mila-Sofi Clasen), na Vishoek vir ’n nuwe begin. Hul seer trek egter saam.
- Sy, die meeue en die Heilige Gees se tweede en derde episodes word onderskeidelik op 6 en 13 Oktober op kykNET uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Taktiek (Seisoen 2)
Maak gereed vir nog ’n lagskof saam met die ongewone span van Taktiek. Dié komediereeks speel af by ’n sekuriteitsmaatskappy in Schusterton, die veiligste dorp in die land. Met so min misdaad is daar oorgenoeg ruimte vir groot persoonlikhede en klein dorpies se eienaardighede.
- Taktiek se tweede seisoen begin 14 Oktober om 20:00 op kykNET. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Buite is beter
Verruil die rusbank vir vars lug saam met Petri de Wet in Buite is beter. Dié nuwe leefstylreeks verken gesondheid, fiksheid en die buitelewe. Petri se eie herstelreis vorm die hart van die reeks. Nadat die nadelige uitwerking van antibiotika hom enkele jare gelede in ’n rolstoel laat beland het, het hy ’n moeilike maar verrykende pad na byna volkome herstel gestap. Hy gesels met kenners en ondersoek onderwerpe soos natuur- en ysbadterapie en kruieaanvullings.
- Buite is beter begin Saterdag 3 Oktober om 18:00 op kykNET. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Oud & jonk
Kan twee generasies saam die knoop deurhak? In kykNET se splinternuwe vasvraprogram Oud & jonk pak spanne van twee mekaar oor drie rondes aan, met pryse van tot R100 000 op die spel. Spanmaats moet minstens 20 jaar in ouderdom verskil – van ouers en kinders tot vriende en kollegas. Die akteur Gert du Plessis, wat as Joubert in Die kantoor te sien was, is die aanbieder wat orde probeer handhaaf terwyl oud en jonk hul kennis op die proef stel.
- Oud & jonk begin op Saterdag 3 Oktober om 18:30 op kykNET. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Haas se gat
Kom duik saam met kykNET af in Haas se gat, ’n nuwe Saterdagaand-speletjiesprogram in podsendingformaat. Die wortels van Haas se gat lê in ’n speletjie wat Suid-Afrikaners al vir geslagte lank ken: Name, Vanne, Diere, Dorpe en Dinge. Kabous Meiring bied aan, Gerhard van Huyssteen is die spelleier, en hy word bygestaan deur Liesl Gouws, ’n triviafoendi en speletjiesfanatikus.
- Haas se gat begin op 10 Oktober om 19:30 op kykNET en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Koortjies
Koortjies keer dié Oktober terug met persoonlike verhale, gesprekke oor moeilike lewenservarings en gospelmusiek wat troos. Bekendes deel hul stories, terwyl kenners raad gee oor verlies, heling en die uiteenlopende uitdagings waarmee gemeenskappe worstel.
- Koortjies begin Sondag 4 Oktober om 19:00 op kykNET&kie en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Sepies en telenovelas
Suidooster
Oktober bring gevaarlike vetes en romantiese verwikkelinge na Ruiterbosch. Nazeem (Irvine van der Merwe) wil Bridgette (Denise Newman) op haar knieë dwing, maar ’n skokkende wending verander die Jacobs-gesin se lewe. Terwyl familiebande beproef word, dreig Bridgette se soeke na antwoorde om in vergelding te ontaard.
- Suidooster is elke weeksdag om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET&kie. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Hierdie Oktober raak ou vetes gevaarliker en nuwe verhoudings ingewikkelder op ‘Suidooster’
Binnelanders
Spanning by Thusanang en persoonlike krisisse oorheers Binnelanders in Oktober. Katryn (Emma van Heyn) probeer Hannah (Rosebelle Clasen) se selfvertroue versterk, terwyl Joe (Roberto Kyle) sy biologiese pa wil konfronteer. Thalia (Megan Troskie) worstel met haar toekoms, en Max (Kevin Smith) tree as vaderfiguur op.
- Binnelanders is elke weeksdag om 19:30 op kykNET en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Diepe waters
Diepe waters se vyfde seisoen bring vandeesmaand nuwe gesigte en onstuimige tye na Boskruin. ’n Onverwagse voorval by die kêffie raak die gemeenskap diep, terwyl ongenooide besoekers verdere spanning veroorsaak.
- Diepe waters is Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Die vyfde seisoen van Diepe waters skop af.
Skemergrond
Oktober bring troukoors, liefdeskeuses en drama op én agter die verhoog in Skemergrond. Christine (Devonecia Swartz) raak al dieper by Rynard (Morné Visser) se toekomsdroom betrokke. Haylee (Sharfa du Plessis) waarsku haar, terwyl sy ’n skokkende besluit oor die video van Hazel (Carmen Maarman) en Fabian (Marunzo Thomas) neem. Sonja (Lee-Ann van Rooi) vermoed egter dat Rynard iets in die mou voer en stel hom voor ’n ultimatum.
- Skemergrond is Maandae tot Dinsdae om 19:30 op kykNET&kie en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
En daar’s nog meer
Oktober bring ook hope ander vars kykgenot én ’n besonderse herdenking na kykNET:
- Vat jou goed en trek se dertiende seisoen skop dié maand op Vrydag 2 Oktober om 17:30 af met die opknapvernuf en -wenke waarvoor dié eiendomsprogram bekend is.
- Motorfietsavontuurliefhebbers kan uitsien na 1-Spoor-avonture se derde seisoen, wat op Maandag 5 Oktober om 17:30 begin.
- Met ’n huppel in die stap is vanaf 7 Oktober Woensdae om 17:30 terug met stories en inspirasie vir ’n aktiewe, betekenisvolle lewe ná 50.
- Entrepreneurskap en die mense agter suksesvolle ondernemings is weer in die kollig in Welvaartskeppers se tweede seisoen, wat op Donderdag 8 Oktober om 17:30 begin.
- Vir alle petrolkoppe sit La’t wiel die 35ste keer voet in die hoek op kykNET wanneer die nuwe seisoen op Dinsdag 13 Oktober om 17:30 begin.
- Emily Hobhouse se moed en medemenslikheid word in Ons Onthou Emily Hobhouse: Regstreeks herdenk op Saterdag 31 October om 11:00. Die storie van Emily, ’n spesiale kort dokumentêr, sal ook uitsaai op Sondag 25 Oktober om 20:30.
Lees ook: Bernice, Franja en Leah is ‘Op die Bladsy’ | rooi rose



