Kykers van die gewilde kykNET-telenovelle Diepe waters wonder al ’n ruk, en uiteindelik kan dit bevestig word – die vyfde seisoen skop op Maandag 28 September af! En nog goeie nuus – kykers kan uitsien na ’n paar nuwe karakters wat die Boskruin-gemeenskap op sy kop gaan draai.
Diepe waters se uitvoerende vervaardiger, Roberta Durrant, vertel daar is ’n paar opwindende nuwe karakters wat by die reeks aansluit – en hulle gaan saam met die geliefde hoofkarakters vir baie drama en intrige sorg.
Kykers kan ook na ’n goeie skeut liefde en romanse, met ’n tikkie komedie, uitsien. Sy is trots op hoe ver die telenovelle al gekom het: “Toe ek sewe jaar gelede ’n reeks aan kykNET voorgestel het, wat rondom ’n swemklub afspeel, kon ons nooit dink dat dit so ’n sterk aanklank by kykers sou vind nie – en dat ons soveel jaar later met die vyfde seisoen sou begin nie. “Ek wil graag vir al ons getroue kykers baie dankie sê. Ons maak Diepe waters vir julle!”
Kykers gaan die volgende karakters in Oktober en November ontmoet:
Gihan Uys (vertolk deur André Lötter)
Gihan is ’n suksesvolle eiendoms- en kleinhandelontwikkelaar wat altyd stylvol in pasgemaakte pakke klere is. Sy natuurlike sjarme, warmte en humorsin maak hom dadelik geliefd onder diegene wat hy ontmoet. As ‘n gebore mensekenner weet hy presies hoe om met enigiemand ’n band te smee, en is hy oënskynlik altyd gereed om ‘n helpende hand uit te reik. Maar onder hierdie gladde, berekende buitekant skuil daar meer ambisie en gedrewenheid as wat mense mag besef …

Gihan is ’n suksesvolle eiendoms- en kleinhandelontwikkelaar wat altyd stylvol in pasgemaakte pakke klere is. Foto: Diepe waters, kykNET
Justus Uys (vertolk deur Ashton Muller)
’n 19-jarige kranige swemmer en atleet wat ná die verlies van sy ma ’n jaar onder sy pa, Gihan, se dak deurbring. Justus is stil, skaam en verkies die digitale wêreld, maar onder sy ingetoë voorkoms skuil baie onverwerkte emosies en onstuimigheid.

Justus is stil, skaam en verkies die digitale wêreld. Foto: Diepe Waters, kykNET
Zann “Zaz” Eloff (vertolk deur Anré Bouguenon)
Zann is Gihan se skerp, waaksame en professionele persoonlike assistent. Sy is een van die min mense wat die waarheid oor haar baas ken. Sy is onvoorspelbaar, uniek en iemand wat haar innerlike wêreld beskerm.

Zann is Gihan se skerp, waaksame en professionele persoonlike assistent. Foto: Diepe waters, kykNET
Aiden Lourens (vertolk deur David Chevers)
’n Aardse, plat-op-die-aarde-man wie se warmte, lojaliteit en eenvoudige lewensbeskouing ’n baken van lig bied. Sy deursigtige en oormatige vertroue in mense maak hom egter weerloos wanneer hy teenoor manipulerende kragte te staan kom.

Aiden Lourens is ‘n plat-op-die-aarde-man wie se warmte, lojaliteit en eenvoudige lewensbeskouing ’n baken van lig bied. Foto: Diepe waters, kykNET
Eurika Janse van Rensburg (vertolk deur Bertha le Roux-Wahl)
’n Weduwee en kleurryke sosiale vlinder. Eurika is ’n onstuitbare storm van kleur, komedie en groot emosies, maar agter haar filterlose mond skuil ’n pleegma met ’n reusehart wat meedoënloos sal veg vir haar pleegseun se sukses.
Tobias Pereira (vertolk deur Jeandré Baard)
’n Stil, negejarige weeskind wat met disleksie worstel. Waar letters en woorde hom op land faal, beweeg hy in die swembad met natuurlike gemak. Met Eurika se onwrikbare geloof in hom, word hy die kompetisiewêreld van swem ingetrek op soek na ’n plek waar hy werklik hoort.
Alexander Smith (vertolk deur Waldemar Schultz)
’n Universiteitsdosent en skrywer wat die wêreld met ’n romantiese en poëtiese blik betrag. Agter sy elegante voorkoms skuil ’n man wat konflik vermy en ingewikkelde bande uit die verlede, veral wanneer dit kom by sy geskiedenis met Sanet en die onvoorspelbaarheid van Eureka.

Justus Uys is ’n 19-jarige kranige swemmer en atleet wat ná die verlies van sy ma ’n jaar onder sy pa, Gihan, se dak deurbring. Foto: Diepe waters, kykNET
Wat kan jy verwag?
Die vyfde seisoen van Diepe waters skop met hope drama en kinkels af. Die Boskruin-gemeenskap word geraak wanneer ’n onverwagse voorval die kêffie tref, en ongenooide besoekers sorg vir spanning. Gihan probeer hard om sy plek by die klub te vind, maar dit laat die gemoedere styg. Intussen neem Zelda ’n gewaagde besluit, terwyl Gys introspeksie moet neem.
Liam se optrede laat almal kop krap en Rene is rasend van bekommernis, terwyl Aiden vir groot wrywing tussen Jacques en Gys sorg.
Karla probeer ’n nuwe identiteit bou weg van die swembad, maar haar besluite laat haar en Sanet koppe stamp. Henry se nuwe drome veroorsaak spanning tussen hom en Lettie, maar uiteindelik oortuig hy haar om sy drome te ondersteun. Daar is egter baie op die spel …
Skakel Maandae tot Donderdae 18:30 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir Diepe waters. Dis ook beskikbaar op DStvStream en CatchUp.


