TygerBurger

R4 miljoen nodig om Brackenfell se kosbare 56-jarige pyporrel te red

Marian Steyl voor die imposante 1970 Cooper, Gill & Tomkins-orrel.
Marian Steyl voor die imposante 1970 Cooper, Gill & Tomkins-orrel.

KAAPSTAD – Brackenfell se enigste werkende pyporrel, `n instrument van groot kulturele en musikale waarde, moet dringend herstel- en restourasiewerk ondergaan, `n projek wat na beraming sowat R4 miljoen gaan beloop oor `n periode van vyf tot agt jaar.

Die orrel is vanjaar 56 jaar oud en verteenwoordig `n belangrike deel van die dorp se musikale erfenis. Met `n geraamde waarde van meer as R10 miljoen is dit `n unieke instrument waarvan die klank nie deur moderne elektroniese instrumente vervang kan word nie, sê Marian Steyl, orrelis by Brackenfell Moedergemeente waar die orrel in 1970 geïnstalleer is.

Die Brackenfell Moedergemeente is reeds in 1944 gestig, aanvanklik as NG Gemeente Kruispad, genoem na die plaas aan die voet van die eerstydse seinheuwel, Kanonkop. In 1978 is die naam verander na NG Gemeente Brackenfell. Die huidige kerkgebou, saam met die Cooper, Gill & Tomkins-orrel, is op 25 en 26 April 1970 feestelik ingewy, met prof. Gawie Cillie as orrelis.

“Dis `n baie kosbare instrument, baie waardevol maar baie, baie duur om in stand te hou. Maar dis ook `n skat van die dorp wat ons moet bewaar,” sê Steyl.

Komplekse instrument met meer as 2 000 pype

Sy verduidelik dat, soos alle komplekse instrumente, die orrel uit honderde bewegende en sensitiewe komponente bestaan.

“Met verloop van tyd lei slytasie en veroudering daartoe dat sekere dele herstel of vervang moet word. Sonder hierdie werk loop die instrument die gevaar om onbruikbaar te raak.”

Brackenfell se orrel het 32 pype wat van buite sigbaar is, maar dit het `n hele agterkamer met meer as 2 000 pype.

R4 miljoen nodig om Brackenfell se kosbare 56-jarige pyporrel te red
R4 miljoen word benodig om Brackenfell se kosbare 56-jarige pyporrel te red.

Volgens die orrelbouer moet die nodige restourasie oor vier fases voltooi word oor die volgende vyf tot agt jaar. Die eerste fase behels kritiese herstelwerk aan die kragtoevoer en beheerkomponente om betroubare werking te verseker, ‘n noodsaaklike stap in Suid-Afrika se uitdagende kragomgewing. Die koste van hierdie fase beloop sowat R40 000.

LEES OOK: https://novanews.co.za/tygerburger/kom-kyk-na-die-son-en-die-maan-by-bracken-natuurreservaat/

Koninklike instrument

In `n 1986-uitgawe van Die Kerkblad beskryf HS Salomons `n pyporrel as `n koninklike instrument met `n lang en ryk geskiedenis.

“Daar word algemeen aan­vaar dat die pyporrel sy oorsprong in die panfluit gehad het. Iemand het eens kortweg die orrel beskryf ʼn as ‘n ‘kas met fluite’,” skryf hy.

ʼn Orrel bestaan inderdaad uit pype (fluite) van ver­skillende vorms en lengtes wat op `n windlaai staan. “Die windlaai staan onder ’n konstante winddruk. Dit word van wind voorsien deur ’n blaasbalg. Vroeër kon ’n orrelis nooit alleen orrel speel nie. Hy het iemand nodig gehad om die pomp te bedien. Sodoende is die orrel van wind voorsien. Vandag word dit gerieflik deur `n elektries aangedrewe ven­tilator gedoen. Die orrelis druk nou `n toets. Dit open `n klep wat veroorsaak dat die wind in die pyp blaas. Op die ma­nier laat dit die pyp ‘praat’.”

Dink aan `n blokfluit. Die klankvorming geskied ba­sies op dieselfde wyse in orrelpype. Die lengte van `n orrelpyp bepaal sy toon­hoogte. Hoe langer die pyp hoe laer die toon. Omge­keer, hoe korter die pyp hoe hoër die toon.

In Latyn is die orrel or­ganum genoem, wat beteken “werktuig”, en is dit inderdaad `n baie vernuftige werktuig.

“Gedeë vakmanskap is nodig om `n pyporrel te kan bou. Buiten `n goeie ambagsman moet die orrelbouer ook `n kunste­naar wees. Hy moet in staat wees om optimale klank, iets anders as maksimum volume, uit sy instrument te verkry,” skryf Salomons.

“`n Pyporrel is `n lewen­de instrument. Hy word gemaak van lewende ma­teriale. Elke orrel het sy eie karakter. Die karakter word bepaal deur die re­gister-samestelling, die ontwerp, die akoestiek van die ruimte waarin dit staan en, seker nie die minste nie, die orrelbouer.”

Gemeenskap gevra om te help

Steyl sê die gemeenskap se ondersteuning is nou van kardinale belang om te verseker dat hierdie kosbare instrument behoue bly vir toekomstige geslagte. Die gemeente het vandeesmaand `n fondsinsamelingspoging van stapel gestuur ter finansiering van die kerkorrel se restourasie.

“Die gemeente self trek finansieel baie swaar en ons kan nie die gemeentegeld vir die orrel gebruik nie,” sê Steyl. “Ons beoog om `n reeks konserte aan te bied, maar hierdie benadering sal ons nie tot by die beoogde bedrag bring nie. Ons benodig dus borgskap van diegene wat `n passie vir musiek en ons kulturele erfenis koester.

“Dit sou `n groot verlies wees indien Brackenfell sy enigste orrel verloor. As ons nie binne die volgende twee tot drie jaar ernstig aandag daaraan gee nie, sal die instandhoudingskoste al hoe hoër raak, die nodige herstelwerk nie gedoen word nie, en die orrel uiteindelik, soos in soveel ander dorpe die geval is, in stof staan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article