Die Jive Young Gardens Sewesrugbytoernooi, wat verlede Donderdag by die Faurestraat-stadion gehou is, was ’n reuse-sukses en het vir naelbyt-aksie gesorg.
Young Peoples het gewys hulle is die onbetwiste konings van plaaslike sewes deur die titel en prysgeld van R4 000 te wen.
Maklik was dit beslis nie, want Young Standards het hulle tot die bitter einde laat veg in ’n riller van ’n eindstryd. Die Tiere moes ’n rustyd-agterstand van 7-12 uitwis en ’n verbete aanslag op hul doellyn afweer in die tweede helfte voordat ’n langafstand-drie en doelskop in die doodsnikke hulle laat feesvier het.
Paarl Rangers het die derde plek ingeneem deur Albions 19-7 te klop in die uitspeelwedstryd om die derde en vierde plekke.
Riverstones was die Plaatwenners. Hulle het die gashere Young Gardens 21-14 in die eindstryd getroef.
Jevano Sauls van Young Peoples was die Speler van die Toernooi danksy sy goeie balverspreiding en die wyse waarop hy telkemale meters veld gewen het met sy bedrieglike lopies.
Ivor van Schoor, president van Young Gardens, het almal bedank wat die Jive Young Gardens Sewestoernooi bygewoon het.
“Baie dankie aan ons borg, Bevco. Ons moet ook vir Natalie Lewis en haar gesin dankie sê vir hulle bydrae tot die toernooi. Haar ontslape man, Alwyn, was ’n gewaardeerde lid van Young Gardens en ons is bly dat ons hom op dié manier kon eer.
“Dankie aan Albions, Paarl Rangers, Pêrel United, Riverstones, Young Standards, Young Peoples, Paarl Violets en Young Gardens vir die lekker rugby en die goeie gees waarin dit gespeel is, asook aan die skeidsregters. Ons waardeer ook die ondersteuning van al die ander rolspelers wat gehelp het om van die toernooi ’n sukses te maak.”
Die klub se 75ste verjaardagvieringe word op 27 April voortgesit met ’n Vryheidsdagontbyt in die Hugenote-gemeenskapsaal. Kaartjies is beskikbaar by Van Schoor by 082 432 2966.





