Young Gardens het sy voorsprong op die punteleer van die Paarl-rugbystreek Saterdag op die Boy Louw-sportterrein vergroot deur Young Standards met 22-18 te klop.
Dit was ’n naelbyt-stryd tussen die twee groot aanspraakmakers op die ligatitel, met Standards wat uit die staanspoor die pas aangegee en rustyd ’n voorsprong van 11-3 geniet het.
Gardens het ’n paar kanse gehad om punte met strafskoppe aan te teken, maar verkies om aanvallend te speel.
Standards se verdediging was egter rotsvas. Gardens het sy ritme in die tweede helfte gevind en drie drieë – een deur Oliver Jacobs (stut) en twee deur Lester Williams (slot) – het die deurslag gegee. Keegan Whitten (losskakel) het met ’n strafdoel en twee doelskoppe geslaag.
Young Gardens, met 41 punte, geniet nou ’n voorsprong van vyf punte bo Standards (36) op die punteleer, gevolg deur Laer-Paarl (35) en Rangers (29). Young Gardens het egter een wedstryd meer as die ander drie gespeel.
Gardens II het Standards II met 20-12 getroef, maar Standards is steeds een punt voor op die punteleer met 34 en 33 punte onderskeidelik. Laer-Paarl het ook 33 punte.
Saterdag speel Allandale teen Young Standards by Drakenstein Gevangenis. Gardens pak Pêrel United, Violets bots met Simondium en Laer Paarl takel Rangers terwyl Riverstones ’n loslootjie geniet. Al die wedstryde is op Dal Josaphat.



